Groot genade anderkant ’n geweerloop

Koos en Lucia Oosthuysen, ’n emeritus-egpaar van Noordhoek, gaan gereeld, vrywillig, tronk toe. Hulle fasiliteer ’n reis van herstellende geregtigheid wat deur Hope Prison Ministry in verskeie Wes-Kaapse gevangenisse aangebied word. Annalise Wiid was ’n week lank saam met hulle agter tralies.


Dis 08:15. ’n Maandagoggend in Mei. Ek ontmoet Koos en Lucia voor die Pollsmoor-gevangenis in Tokai, buite Kaapstad. Koos, met sy hartlike, dawerende lag. Lucia, klein, energiek en baie liefdevol.

Ons ry saam deur die afgeskilferde groen hekke waarop geskryf staan: “Correctional Services – a place of new beginnings”. Hier word ’n verbysterende byna ­8 000 gevangenes aangehou. Vir party bring dit, wonderbaarlik, ’n nuwe begin …

Tony getuig

Tony Carlisle vertel van die trauma wat hy moes trotseer as gevolg van ’n skietwond in sy rug tydens ’n gewapende roof.

Hoe het Koos (82) en Lucia (77) hier beland? Hulle dogter moes Pollsmoor vir nagraadse studie besoek en het toevallig aanbieders van herstellende geregtigheid daar ontmoet. Sy het haar ouers daarvan vertel en dit was die begin van ’n volgende hoofstuk in hulle, reeds interessante, lewe.

Koos was predikant in die NG Kerk in Afrika, Paarl, Stellenbosch, Franschhoek, Wellington en King Williams Town. Hy was ook betrokke by die Xhosa-Bybelvertaling en -grammatikaboeke. Lucia was ’n onderwyseres. Nou fasiliteer hulle, byna tien jaar al, ’n nuwe begin in gevangenisse.

’n Proses

Herstellende Geregtigheid (of Restorative Justice) is nie ’n program nie. Dis ’n proses – eintlik ’n leefreis – om die skade wat deur misdaad veroorsaak is, waar moontlik, te herstel. In die oortreder, sowel as die slagoffer en die gemeenskap.

Jonathan Clayton, die aanbieder en direkteur van Hope Prison Ministries, is self ’n oud-gevangene. Hy het ’n vier jaar-vonnis vir bedrog uitgedien; in hierdie einste Pollsmoor. Met sy vrylating die grond buite die hek gesoen en belowe: Here, ek kom nóóit weer terug nie.

Jonathan is inderdaad ’n mengsel van teoloog, akrobaat, nar en sielkundige. Hy skroom nie om eensklaps iets onverwags te doen om ’n belangrike punt te illustreer nie. Hier demonstreer hy wat dit beteken om ’n broer vir ’n tweede en derde myl op ’n moeilike pad te dra.

Jonathan is inderdaad ’n mengsel van teoloog, akrobaat, nar en sielkundige. Hy skroom nie om eensklaps iets onverwags te doen om ’n belangrike punt te illustreer nie. Hier demonstreer hy wat dit beteken om ’n broer vir ’n tweede en derde myl op ’n moeilike pad te dra.

Maar toe kom hy tóg – nie as gevangene nie, maar as bevryder. Vir 28 jaar al is hy ’n baken van hoop.

Met die jare het hy sy kursus só verfyn dat waarnemers wêreldwyd van Swede tot die Seychelle kom kers opsteek. Hy is ook onlangs Pretoria toe ontbied om 350 amptenare van Korrektiewe Dienste met die beginsels van herstellende geregtigheid uit te daag.

Koos beskryf Jonathan as ’n mengsel van teoloog, grapjas, sielkundige, akrobaat en regsgeleerde.

Ons kry Jonathan en ’n groepie medewerkers by Medium B se ingang. Stap tussen hemelhoë draadheinings, met ekstra rolle doringdraad bo-op, by trappies af – vlak, vir kettingvoete wat net kan skuifelstap. Dan deur ’n lang lewelose gang en swart staalhekke wat ons skielik uitspoeg in ’n bontgeverfde ruimte.

Ingeperktheid het ’n reuk soos ou yster: Dit los ’n smaak in jou mond.

Een en twintig mans in oranje oorpakke kom sit, vrywillig, vir ’n week, drie aan elke tafel, by ’n fasiliteerder. Jonathan dring aan op skoon, wit tafeldoeke. Dit is menswaardig.

Bendes

By my en Lucia se tafel sit Johnny (27) met die maklike, breë glimlag. Hy het ’n “tear-of-death-tatoeëermerk” onder sy regteroog – die bewys dat hy, as inisiasie-daad tot ’n bende, iemand vermoor het.

Koos en Lucia Oosthuysen lag lekker vir een van Jona­than se vele grappies.

Dennis (23) pluk-pluk deurgaans skamerig en senuagtig aan sy ken. Heel week wonder hy of sy bende sal opdrag gee om sy girlfriend te skiet? Sy het by ’n ander bende oor hulle geklik.

Andries (51), wat lief is vir sy kind, is ’n ou gangster: afgestomp, gehawend. Gewere is sy ding. Gou beskikbaar, gou gebruik, gou weer weggesteek. Net een keer geglip, toe vang die cops hom.

Dié drie (skuilname is gebruik) het saam meer as 50 misdade gepleeg. Al drie is ook lid van die “number”: 26’s, 27’s, 28’s. Tronkbende-boeie sluit stywer as ’n tronksel.

Herstellende geregtigheid vra indringende, konfronterende vrae. Waar het die gevangenes se lewe begin skeefloop? Wie het húlle mishandel, misbruik, weggesmyt? Lewensverhale; nie verskonings nie. Die meeste gevangenes se stories is “multi-layered”. Laag-op-laag leed.

Ek wonder skepties: Kan ’n mens eerlike antwoorde uit kriminele monde verwag? Hulle is self sinies. Vra, sommer daardie eerste dag al: Kan ’n mens regtig ver­ander? Jonathan glimlag net …

Hy verskuif die fokus na hulle slagoffers. Tony Carlisle, ’n parapleeg, kom vertel hoe hy in die rug geskiet is tydens ’n gewapende roof. Hy verteenwoordig die fisiese, finansiële, emosionele en geestelike skade wat hulle kollektief aan mense berokken het.

Nie een oortreder kan ontsnap uit dié tromp-op konfrontasie met die effek van hulle misdade nie. Die nugter, naakte werklikheid wat aandring: Kyk, kyk! Sien jou slagoffer se skrik, die skade. Voel die pyn. Dit is deur jóú toedoen. Aanvaar verantwoordelikheid daarvoor.

‘Ek skrik nou’

Hulle reageer: “Ek het nog nooit só daaraan gedink nie”; “ek het nie verstaan hoe ek operate nie”; “dit challenge my nou baie”; “ek skrik nou vir myself”. Dit lei tot deurdagte gesprekke oor denkfoute, verkeerde aannames, swak keuses, goeie waardes. Ek ervaar ’n sprankie hoop. Selfs deernis.

Maar daardie aand kom die verpletterende nuus: Winnie Rust, die vrou met die lewensleuse, “Laat die liefde jou lei”, is in haar eie huis vermoor. Alles in my rebelleer teen teruggaan tronk toe. Ek wil eerder saam met die massa-mens skreeu: Sluit hulle op! Smyt die sleutel weg! Misdadigers verander nie. Mooi broodjies bak met moordenaars en messtekers is pêrels voor die swyne.

Maar herstellende geregtigheid se wydingslied sing elke oggend: “You will always be a child in my eyes.” En daagliks sê ons vir mekaar: “The good you do today will be forgotten tomorrow. Do good anyway. What you spend years building may be destroyed overnight. Build anyway. People who really need help, may attack you if you help them. Help them anyway.”

God het onbeteueld lief. Hoe durf ek my rug draai?

Ek gaan dus tóg terug. Steeds kwaad. Diep hartseer. Méér oortuig: Misdaad steel nie nét die slagoffer se lewe nie. Die oortreder s’n ook. En ons het almal net één lewe!

Ricardo Sloster se storie onderstreep die wonder-waarde van een lewe. Ricardo, die reuse-man, wat so lekker kan lag. Sy oë is blinkbruin spoelklippe – sag van baie swaarkry. Jonathan het hom een Sondag toevallig in Pollsmoor ontmoet – “dik-gerook”.

Twee dae daarna, vertel Jonathan se vriend, Mike, vir hom hoe naelskraap hy ’n gewapende roof oorleef het: Drie ouens het helder oordag ingestorm, wapens teen hulle kop gedruk, die vroue vasgebind. Om die vroue te beskerm, het Mike waaghalsig met die rowers onderhandel: Hy sal hulle help om alles uit die huis te dra én hulle kan met sy kar vlug. “Deal,” sê die leier-rower.

‘Bid vir my’

Terwyl Mike help meubels dra, val sy besigheidskaartjie uit sy sak. Die rower tel dit op, sien daarop dat hy ’n predikant is, en vra: Bid vir my, asseblief, my naam is Ricardo.

“So, Jonathan, as jy dalk ’n Ricardo-ou in Pollsmoor raakloop, wees tog goed vir hom,” het Mike gevra. “Ek dink nie hy is gemors nie. Hy het potensiaal.”

Ricardo

Ricardo Sloster raak nou nog hartseer as hy dink aan die leed wat hy mense met sy misdade aangedoen het. Hy het egter handomkeer verander en leef nou ’n wonderlike getuienis van God se groot genade uit.

Ricardo was byna vyf jaar lank verhoorafwagtend, in maksimum sekuriteit. Met soveel ernstige klagte teen hom, dat hy ’n vonnis van 75 jaar sou kon kry.

Toe word Jonathan sy vriend. Teen die tyd dat Ricardo moes hof toe, het sy advokaat vir Jonathan gevra: “Kom praat met my oor die jongman. Jy ken hom. Watter vonnis dink jy is gepas?” Jonathan het 25 jaar aanbeveel. Hy glo in genade, maar hy glo ook misdadigers moet verantwoordelikheid dra vir die gevolge van hulle dade.

Ricardo het 10 jaar van sy vonnis uitgedien. En verander van ’n gewapende rower tot ’n saggeaarde, liefdevolle, wyse, rustige man van God: ’n pastor, gelukkig getroud met ’n gelowige vrou wat hom heelhartig in sy bediening ondersteun.

As “field director” van Hope Prison Ministries begelei hy honderde gevangenes, veral jeugmisdadigers, op die reis van herstellende geregtigheid. Hoewel hy nog op parool is, vertrou die owerhede hom met vrye toegang tot vyf verskillende tronke.

Ricardo se diep berou oor die emosionele skade wat hy mense aangedoen het, maak steeds seer. ’n Seuntjie was destyds so getraumatiseer deur ’n roof, dat hy nou nog onmiddellik die deur sluit wanneer hy ’n vertrek binnegaan. Nóóit in sy lewe wil hy wéér so onverhoeds gevang word en so vreeslik groot skrik nie. Ricardo raak, ná 12 jaar, steeds bewoë wanneer hy aan die kind se angs dink.

Verander?

Kan geharde misdadigers werklik verander? Ek het onverwagse hoop in vasgekeerde oë sien blink toe Ricardo vertel dat God steeds genadig is, selfs al druk jy jou geweerloop in ’n verskrikte mens se gesig.

Aan die einde van die week van herstellende geregtigheid bemiddel Jonathan ’n openhartige gesprek tussen die gevangenes en hulle families. Dapper eerlikheid is die wagwoord. ’n Pa huil stil, gebroke, oor sy kind se wangedrag. ’n Ma sug: “Ag, en dan is hy nog my babykind ook”. ’n Suster kom konfronteer: “Jy het my hart gebreek en my huwelik aan bo-menslike stres onderwerp.”

Die span

Die span fasiliteerders en waarnemers hou nabetragting voor Medium B na ’n dag se intensiewe gesprekke. Koos sit links voor. Lucia staan regs. Net links van haar staan Jonathan Clayton, die direkteur van Hope Prison Ministries wat die week se kursus, Herstellende Geregtigheid, aangebied het. Links van Jonathan staan Frank Steufen, ’n gevangeniskapelaan uit Zürich wat die week kom waarneem het om sy eie bedie­ning te verbeter. Die man met die kruk (Paul) en die een met gevoude arms (Geoff) is beide gelowige oud-gevangenes wat nou waardevolle bydraes tot huidige gevangenes se herstelproses lewer.

Die gevangenes kry ook kans om vrae of vergifnis te vra, indien hulle daarvoor gereed is. Een sê beslis: Ek wil verander. Sy skoonma omhels hom. Noem hom “seun”.

Die ander 20 wik en weeg nog. Jonathan verkies sulke eerlikheid bo ’n oor-emosionele “bekering” sonder blywende vrug.

Tien van hulle erken betrokkenheid by tronkbendes. Ter wille van oorlewing, glo hulle. “Niemand is al deur ’n number doodgemaak omdat hy sy hart verander het nie,” gooi Jonathan vir hulle ’n draaibal. Hy weet. Hy was mos self hier.

Die einde van die week beteken nie die einde van die reis nie. Dit word opgevolg met nog agt weke se individuele gesprekke. Indien die gevangene en die slagoffer daarna beide instem, kan daar ook ’n gesprek tussen oortreder en slagoffer gereël word. Dié intensiewe saamstap en herstelproses kan tot drie jaar duur. Geen haas nie. Net geduldige hoop.

Ons groet voor die gehawende groen New Beginnings-hekke. Koos en Lucia, wat Matteus 25 so ráák-leef, ten spyte van hulle jare, verstom my. “Skryf daar,” sê Koos laggend, “as die kerk iets aan misdaad wil doen, moet hulle nie met die owerhede gesprekke aanvra nie. Laat hulle met die manne self kom praat. Hiér kan mens ’n verskil maak!” En ’n nuwe begin.