Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ds Rudolph Scharneck van Greytown skryf:
Ek stap ’n ruk gelede op ’n strand aan die suidkus van KwaZulu-Natal. Gewoonlik wanneer ek so op die strand stap is ek in verwondering oor die pragtige natuurskoon.
Hierdie keer is dit egter anders. Al wat ek raaksien is die gemors wat op die strand lê. Dis plastiek, koeldrankblikkies en aasbokse. Daar is oorblyfsels van ’n vuur wat iemand gemaak het en sigaretstompies.
Dis maklik om te sê dis “ander mense” wat daarvoor verantwoordelik is, maar ek het al gesien hoe smyt goeie NG kerk-lidmate blikke, papier en sigaretstompies sommer op enige plek neer.
As Christene behoort ons die voorbeeld te stel van omgee vir die natuur, God se skepping. Vat volgende keer as jy strand toe gaan, ’n sak saam en tel die rommel op soos jy stap.
Leer jou kinders deur jou voorbeeld om nie te mors nie en rommel te hersirkuleer. Die oplossing begin by jou wat besef dat die Here van jou, sy dienaar, verwag om sy skepping te bewaar.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
