Is die geloofsgemeenskap inklusief of eksklusief?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Jesaja 25 is een van die bekende gedeeltes uit die Ou Testament. Ou-Testamentici is dit met mekaar eens dat Jesaja 25:1-5 bymekaar hoort, terwyl 25:6-8 ook ’n eenheid vorm. Verse 9 en 10 se eerste deel bevestig wat in die voorafgaande verse oor God se verlossing en sy oorvloedige genade gesê is.

Dit vertel die lesers iets van wie die Here is, wat hy doen en dit vertel vir ons van die vernietiging van ’n ongeïdentifiseerde stad – waarskynlik Babel.

Die weerloses van hierdie wêreld, die armes, dié sonder mag en dié wat nie in die gemeenskap gereken word nie, sal beleef dat die God van Israel in besonder in hulle omstandighede teenwoordig is. Diegene wat hulle in hul hoogmoed aan mag vergryp, sal egter beleef dat die Here hulle teenstander geword het.

Die universele aard van die Here God van Israel staan in die hele hoofstuk duidelik op die voorgrond. Die metafoor van ’n feesmaal of banket word gebruik om iets van die Here se inklusiewe genade en oorvloed te illustreer. God wil vir mense, alle mense, net die heel beste. Alle mense is ingesluit in die gemeenskap van die Here en almal deel in die oorvloed van sy genade.

Daar is egter in elke historiese epog daardie mense wat God se goedheid en genade as geleentheid sien om hulleself te verhef, te verryk en aan mag te ver­gryp. Hulle sal die gevolge van hulle dade moet dra.

Die tweede gedeelte van vers 10 en verder laat navorsers kopkrap. Hoe is die verwerping van een groep mense, te wete die Moabiete, te rym met die Here se universele verlossing en genade? Is dit dan tog so dat God sekere mense uit sy gemeenskap uitsluit? Terwyl Jesaja baie duidelik die Here as universele en inklusiewe Here verkondig, staan hierdie deel van vers 10 in skrille kontras daarmee.

Verskillende verklarings is al deur die geskiedenis vir vers 10 aangebied. Die een wat vassteek, is dié verklaring wat lui dat hierdie vers waarskynlik hier ingevoeg is deur daardie groep mense onder die na-ballingskapse Judese gemeenskap, wat steeds van die Here ’n eksklusiewe God wou maak. Wat hulle betref is daar sekere mense wie se optrede van so ’n aard is, dat hulle nie kwalifiseer om onvoorwaardelik en ten volle deel te wees van die gemeente/gemeenskap van die Here nie.

Die kerk van die Here het vandag steeds mense in haar geledere wat van God ’n uitsluitende God en sy genade voorwaardelik maak.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda.