Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Marais Kluge van Strydenburg skryf:
Die droogte van die afgelope paar jaar was anders, meedoënloos, erger en oral. Oor tyd het grondvog weggeraak, die weidings het agteruit gegaan, en skielik was dit so droog soos min van ons dit al beleef het.
Te midde van ander onsekerhede en spanning moes ons landbouers hierdie ramp ook hanteer. Vir baie het dit beteken om spaargeld, aftreefondse, luukshede en selfs groot dele van kuddes op te offer. Talle het saam met die boere magteloos die wrede gevolge gevoel: minder werk, meer armoede, groter plakkerskampe.
Toe praat die Here met mense wat ons nie eens ken nie, ver van ons af. Mense wat nie ons plaasname ken nie, gee hulp en geld.
Ons kerk se lidmate loop voor, selfs stedelike gemeentes met baie krane vol water. Hierdie verhale vermenigvuldig. Daarvoor is ons baie dankbaar.
Die Wes-Kaap en later die Algemene Sinodale kantoor raak betrokke. Hoe sê ’n mens genoeg dankie? Hoe sal mense verstaan wat dit beteken om agter te kom daar is mense wat weet van jou nood, wat omgee? Medegelowiges wat saam bid en hoop. Dis mos wat genade, liefde en deernis beteken! Dis mos godsdiens!
Uiteindelik, in die laat herfs, het dit gereën, goed en wyd. Dalk te laat vir hierdie seisoen, maar met ’n bietjie opvolgreën gaan ons ’n goeie jaar hê. En al is krale leeg en al bot die vyebome (en gesaaides) nog nie, kom kyk volgende jaar hoe lyk mooi skape in die Karoo, en hoe groei mielies in die Vrystaat en Noordwes! Na elke droogte kom daar reën! (Hab 3:17 EV).
Dié droogte was dalk die swaarste ooit. Tog weet ons opnuut dat die Here en sy kinders omgee, hoor, en help! In ons nood het ons mekaar dalk beter raakgesien. Môre kyk ons rond om te sien waar en hoe ons ander kan help. Want God seën ons altyd weer – Hy seën Afrika!
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
