Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Jaco Nel van Port Elizabeth-Oos skryf:
Willie Jonker skryf in 1965: “Die regeermag in die kerk mag nooit uitgeoefen word op ’n juridiese manier nie, laat staan nog op ’n wettiese of wêreldse manier, want dit gaan nie om ’n regering wat sonder meer vergelykbaar is met die van ’n aardse gesagsinstansie nie. Kerkregering is diens aan en van die Woord, is getuienis en verkondiging wat voor ’n beslissing met betrekking tot Christus stel.”
Die NG Kerk is tans vasgevang in ’n stryd rondom die Kerkorde. Verskeie regskundiges is al geraadpleeg om die appèlprobleem te help oplos.
Tog is dit opmerklik dat die Woord by die regering van die kerk buite rekening gelaat word: dit gaan in die appèlle meer daarom of die prosedure en reëls gevolg is en nie of die Woord aangetas is nie.
Appèlle word eintlik al eeue lank deur die kerk aangehoor en aangemoedig omdat geen kerkvergadering die laaste sê in die kerk kan hê nie. Dit kom aan die Woord van God alleen toe.
Daarom moet die weg tot appèl altyd oop wees, omdat geen vergadering onfeilbaar is nie en die meerderheid nie regeer nie, maar die Woord. En wanneer die Woord die regter in ’n appèl is, kan ’n sinode in elk geval nooit regter in sy eie saak wees nie: Die sinode bedien bloot Christus se regering en regeer nie namens Christus nie.
Het dit nie tyd geword dat ons weer na Willie Jonker se pleidooi luister nie? Want die sekulêre vorm van kerkregering waarin ons tans vasgevang is maak dit onmoontlik om nog ’n geestelike bestuurswyse van die kerk te bely (vgl NGB Artikel 30).
Voordat ons regskundiges raadpleeg oor die orde van die kerk, sal ons moet leer “om ruimte te maak vir die Woord, waardeur Christus alleen wil regeer in sy kerk.”
Prof Johan van der Merwe, aktuarius van die Algemene Sinode, antwoord:
Kerkregering is inderdaad, soos Jonker skryf, diens aan en van die Woord. Die vraag is egter hoe dit op die huidige situasie toegepas kan word. Volgens Gert Duursema, wat tans navorsing doen oor Jonker, verwys Jonker in sy besinning oor kerkreg spesifiek na die hantering van appèlle. Hy betoog dan ook dat lidmate en kerkvergaderings wat ontevrede is met die besluit van ’n kerkvergadering altyd die reg op appèl moet hê – soos wat Nel tereg in sy brief meld.
’n Bybelse hantering van die saak is egter volgens Jonker dan juis om groot empatie met sulke lidmate te hê. Hy skryf dat dit nodig is dat Skriftuurlike besware teen kerklike besluite vryelik uitgespreek sal word. ’n Kerk wat ruimte maak vir die Woord moet aan hulle die geleentheid bied om binne die ruimte van wedersydse liefde soos wat die Bybel ons leer, hulle saak te stel sonder dat hulle veroordeel of verketter word. Dit is dan wanneer die Christusregering van die kerk ’n werklikheid word.
Dit is jammer dat die huidige proses deur sommige uitsluitlik as juridiese proses beskou word waarin die Woord by die regering van die kerk dan sogenaamd buite rekening gelaat word. Alhoewel die appèlle tegnies korrek hanteer moet word, is die hele hantering daarvan ingebed in ’n kerklike proses. Dit is egter ook so dat die Kerkorde nie vir alle sake voorsiening maak nie en dat die wette van die land gewoon dan geld. In die hantering van kerklike sake op ’n kerklike wyse, mag dit nie verontagsaam word nie.
