Op die Pelgrimstog van Hoop is Pniël een van die oornagpunte, maar dit is ook soveel meer. Neels Jackson deel iets van sy belewenis van dié gemeenskap.
Dis nie ’n baie lang dag se stap van Stellenbosch af tot op Pniël nie, maar die Kaapse winterreën het ons gevang en ons is koud en nat as ons daar aankom.
Daarom waardeer ons die warm hartlikheid waarmee ons ontvang word, soveel meer. Eintlik is ons ontvang nog voor ons daar aangekom het, want ’n afvaardiging van Pniël het ons tegemoet gekom en die laaste paar kilometer saam met ons gestap.
In Pniël, teen die hang van die Simonsberg, gaan ons eerste na die groot wit Congregational Kerk toe waar eerw Leon Klate vir ons iets van hulle gemeenskap se storie vertel.
Die gemeenskap is omstreeks 1840 gevestig as ’n gemeenskap van vrygestelde slawe. ’n Plaas is aan hulle beskikbaar gestel en twee van die reëls was dat daar nie ’n drankwinkel mag wees nie en dat daar net een kerk mag wees.

Tot vandag toe is daar net een kerk in Pniël. Dit is die Congregational Kerk wat steeds help om ’n hegte band in die gemeenskap te vorm.
Die afgelope klompie jare het dié gemeente ingeskakel by die Vennootskap van Gestuurde Gemeentes en besef dat hulle moet skuif van ’n na binne gekeerde gemeente na ’n missionale gemeente.
Dat hulle ons as pelgrims so ontvang, is deel van hulle houding van gasvryheid wat voortspruit uit dié nuwe missionale gerigtheid.
Daarom wag daar vir ons warm koffie of tee by die teetuin langs die museum, saam met ’n groepie Pniëliete wat ons kom verwelkom.
Een van die onbeplande en dikwels onverwagse vreugdes van enige pelgrimstog, is die ontmoetings met vriendelike vreemdelinge wat jou pad kruis.
Vir ons het dit gekom in die persoon van Joaline Lackay, ’n weduwee by wie ons dié aand sou tuisgaan.
By ’n kaggelvuur in haar mooi huis hoor ons haar storie.
Soos gebruiklik was toe sy jonk was, is sy na standerd 8 (graad 10) uit die skool uit. Daarna het sy ’n twee jaar lange diplomakurusus gaan doen waarmee sy kon gaan skool hou. Op 17 was sy ’n onderwyseres.
Later het sy aandklas geloop om haar matriek te doen, maar intussen is sy getroud met ’n onderwyser en het hulle met ’n gesin begin.
Hulle seun was gestremd en het epileptiese aanvalle gekry, maar hy het ook vir hulle deure oopgemaak, vertel Joaline.
Nadat sy haar matriek behaal het, het sy voortgegaan om vir ’n onderwysgraad te studeer aan die Univeristeit van Wes-Kaapland. Met die koms van verandering in die land en toe die deure by Stellenbosch vir bruinmense oopgegaan het, het sy daar haar meestersgraad behaal – en op aandrang van haar promotor later ook haar doktorsgraad oor gestremde onderwys.
Sy het afgetree as hoof van ’n skool vir gestremdes in die Paarl.
Haar man moes weens gesondheidsprobleme vroeg aftree uit die onderwys, maar hy het in die administrasie van sport vir gestremdes opgegaan en as voorsitter van gestremde sport in Suid-Afrika het hy die wêreld vol gereis – en dikwels kon sy en hulle gestremde seun saamreis.
Pa en seun is albei al oorlede, maar met die rustige kalmte waarmee dr Joaline Lackay die storie vertel, word sy vir ons ’n gesig van Pniël, ’n gesonde, gelukkige gemeenskap wat uitstyg bo hulle omstandighede.
Ons hoor iets daarvan as ons saam met Sandra November stap deur die museum wat in die ou pastorie ingerig is. Sy vertel ons en wys foto’s van die Tamatie. Dit is ’n kodenaam van ’n beweging wat hulle plaaslike rugbyspan met sukses teen talle opponente uitgevoer het.

Iets van die gemeenskap se trots word duidelik as hulle praat oor hulle “W”. Dit is ’n formasie hoog in die Simonsberg wat lyk soos die letter W. Dit kan uit Pniël gesien word, maar nie uit die woonbuurte langs hulle nie. Dis Pniël se W.
As hulle iewers op reis was, vertel een van die Pniëlers, en hulle kom terug en hulle sien die W, dan weet hulle hulle is nou tuis.
Waarvoor staan die W? wil iemand weet.
“Vir Williams,” sê Sandra. “Ons voorvaders het dit self uitgekap!” En ons lag want ons weet Williams was haar nooiensvan.
Ons word die aand bederf met ’n heerlike ete en kuier by die teetuin. Die volgende oggend is daar ’n hartlike ontbyt.
As ons die oggend vertrek, stap Sandra saam met ons. Ons vertoef ’n oomblik by die skool waar haar man die hoof is, en bid vir hom, vir die skool en vir Pniël.
Pniël was vir ons ’n seën. Agterna wonder ons hoeveel die gesondheid van die gemeenskap daarmee te doen het dat Pniël net een kerk het, dat daar nie so ’n versplintering van die liggaam van Christus is as op soveel ander plekke nie.
– Meer besonderhede oor die pelgrimstog is beskikbaar by pelgrim@sun.ac.za of by 021 808 3382. Kyk ook na die facebookblad Pelgrimstog van Hoop.
