Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dirk du Preez van Deneysville skryf:
Ek verwys na die berig in Kerkbode van 17 Junie 2016 dat die NG Kerk baie dominees gaan benodig binne 15 jaar.
Op 17 het ek besluit ek wil ’n predikant word in die kerk waarvoor ek so lief is, die NG Kerk. As gevolg van ’n tekort aan fondse het ek nie die voorreg gehad om universiteit te kon bywoon nie.
Ek het begin werk en ’n klompie jare daarna begin studeer aan ’n diploma in Bybelkunde. Ek het seker gemaak dat dit ’n instansie is wat Protestantse teologie doseer. Hierna het ek my Senior diploma in Christelike Etiek voltooi by dieselfde instansie.
Ek is tans besig met my B-graad in teologie met nog twee jaar se studie oor. Dit sal dan ongeveer 12 jaar wees wat ek hieraan studeer het. Dit is nou 30 jaar later, en steeds leef die droom in my om in die NG Kerk ’n predikant te wees. Maar omrede ek nie kon bekostig om aan een van drie verkose universiteite te studeer nie, kon ek nooit my droom verwesenlik nie. Dit het altyd gevoel dat God se roeping op jou lewe nie die bepalende faktor is tot roeping as predikant nie. Die enigste kriterium was werklik of mens dit kan bekostig om aan ’n universiteit te studeer.
Ek wonder of ons nie die kerk soveel armer maak deur mense wat werklik ’n roeping as predikant beleef te diskwalifiseer net omrede hulle dit nie kon bekostig nie.
Waarom kan die NG Kerk nie kyk na die teologiese inhoud van instansies wat afstandonderrig aanbied en so mense soos ek ook die geleentheid gee om hulleself vir die bediening te bekwaam nie? Wat dan van die roeping op my lewe? Is God se roeping dan net eg as jy dit kan bekostig?
