Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Cobus Olivier skryf uit die Vrystaat:
Ons gesin het ’n werklike behoefte om die liggaam van Christus in sy volheid te ervaar. Terselfdertyd hunker ons na kerk in Afrikaans.
In die Vrystaat loop die etniese skeidslyne baie op taal. Dit beteken as ons by die NG Kerk of enige ander Afrikaans-kerk in die dorp hou, mis ons die verskeidenheid van die liggaam van Christus. Gaan ons Engelse kerk toe sukkel ons kinders met die Engels.
Met die demografie wat so in buurte verander het, moet daar sekerlik ’n Afrikaans-gemeente wees wat met anderstalige dienste begin het? ’n Gemeente bedien sekerlik mense binne sy grense?
’n Tweetalige gemeente sou ons kans gee om eredienste in Afrikaans by te woon en soms die anderstalige dienste, Sotho of Engels, waar ons meer van die liggaam van Christus kan ervaar.
Ek begin by NG Sentraal waar anderstaliges die buurt oorheers. “O, nee, hier het anderstaliges gekom, maar ons het ’n gesprek met hulle gehad en hulle het ingestem om eerder saam met hulle eie mense kerk toe te gaan,” sê die man van die gemeente wat my help.
Tot op hede kon ek nie ’n NG gemeente in die dorp vind wat anderstalige dienste hou nie. Die Gereformeerdes het wel ’n Chewa-diens vir die Malawiërs.
Hoe kan dit wees dat nie een NG gemeente ’n erediens vir mense binne hul grense het nie? Die maklike manier is kry ’n bestaande Engels- of Sotho-gemeente en bied hulle die gebruik van die kerkgebou aan. Maar dis mos ons kerk en nie God se kerk nie.
Die uiteinde is ons aanbid in ’n Engelse middedorp-gemeente waar ons sonder om te lieg kan sing: “Al julle volke klap julle hande” en waar ek sonder om te lieg kan sê: “Ek glo aan die gemeenskap van gelowiges, een algemene Christelike kerk”.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
