UIT DIE BEEK 2017
Deur Attie van Wijk
Uitgegee deur Lux Verbi 2016
Resensie deur Frits Gaum
Ds Attie van Wijk het in sy oupa se voetspore gevolg en die oudste Bybeldagboek in Afrikaans, Uit die beek, jare lank geskryf. Sy oupa, ds AJ van Wijk sr, het in 1925 begin om hierdie jaarlange oordenkings te skryf – destyds in Nederlands. In 1929 is dit die eerste keer in Afrikaans gepubliseer, en sedertdien elke jaar. Die afgelope tien jaar was die bekende Attie van Wijk van Wellington – tot met sy aftrede verbonde aan verskillende aksies van Bybel-Media en kleinseun en naamgenoot van die oorspronklike skrywer – die opsteller van hierdie gewilde Bybeldagboek.
In die voorwoord word gesê dat, as ’n mens die dagboek-siklus van Uit die beek die afgelope sewe jaar gevolg het, jy al 66 boeke van die Bybel van voor tot agter deurgelees het. In die 2017-uitgawe van die dagboek kom dele van Deuteronomium, Rut, 1 en 2 Kronieke, Ester, Joël, Jona, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai en Maleagi sowel as Handelinge, Kolossense, 1 en 2 Timoteus, Filemon, Judas en Openbaring aan die beurt.
Attie het die vermoë om op-die-man-en-vrou-af in allemenstaal te skryf. Hy gebruik voorvalle uit die daaglikse lewe om sy punte te staaf, en verdwaal nêrens op moeilike teologiese weë nie. Hy verduidelik die Bybel sodat elkeen kan verstaan wat daar staan. Hy hou by die dinge waaroor ons seker kan wees en krap nie waar dit nie jeuk nie. En hy toon aan dat ook die minder bekende Bybelboeke aktueel vir ons daaglikse lewe is. Hierdie uitgawe van Uit die beek is (weer) ’n treffer!
Baie dankie, Attie, vir wat jou skryfwerk die afgelope dekade in Uit die beek – en voor dit in talle Bybel-Media-publikasies – vir baie, baie mense beteken het. Hopelik sal jou pen nie nou heeltemal tot rus kom nie!