Franschhoek vertel baie

Een van die bakens op die Pelgrimstog van Hoop is Franschhoek, vandag ’n groeiende en al meer kosmopolitaans wordende dorp in die skilderagtige Franschhoekvallei. Neels Jackson vertel.


Franschhoek is ’n mooi dorp, maar agter die skoonheid lê daar baie stof tot nadenke ingebed in ouer en onlangser kerkgeskiedenis.

’n Pelgrim wat deur die dorp stap, sou die storie kon begin aan die bopunt van Hugenoteweg, die hoofstraat waarmee ’n mens die dorp van Stellenbosch en Pniël se kant af instap.

Daar staan die manjifieke Hugenotemonument met die Hugenotemuseum net daarnaas.

Dit vertel die verhaal van een van die uitlopers van Kerkhervorming in Europa, die godsdienstige konflik tussen Katolieke en Protestante wat daaruit voortgespruit het, en die Franse Protestante wat vir hulle lewe gevlug het en ’n veilige hawe aan die Kaap van Goeie Hoop kom vind het.

franschoek-kerk-binne

Ds Peet Bester deel die verhaal van Franschhoek se NG gemeente met die pelgrims waar hulle binne die kerk sit.

Toe hulle in 1688 hier aangekom het, het die Hollandse owerhede vir hulle blyplek gegee in ’n vallei aan die buitewyke van die destydse kolonie, en hierdie uit­hoek het Franschhoek geword.

In ’n samelewing waar waardes van vryheid, onder meer godsdiensvryheid, grondwetlik verskans is, is dit moeilik om jou in te dink dat jou lewe bedreig kan word omdat jy glo wat jy glo.

En tog, dit is nie net die geskiedenis van meer as drie eeue gelede wat hier daarvan getuig nie; daar is van­dag baie plekke in die wêreld waar dit steeds die geval is.

Vir die draers van vanne soos Cilliers en De Villiers, Du Toit en Du Preez, Naudé, Le Roux, De Klerk, Retief, Mouton en Rossouw, was die geskiedenis goed. Hulle voorvaders kon in vrede aan die Kaap kom bly en hulle geloof in God hier kom uitleef.

’n Pelgrim wat Franschhoek besoek, kan dus weet hy stap oor terrein waar God se genade groot was.

Kinkels

Maar die geskiedenis het altyd sy kinkels, soos dit ook is met Franschhoek wat tot 30, 40 jaar gelede ’n taamlik homogene landbougemeenskap was. Toe was die kerk ’n sentrale en vanselfsprekende deel van die gemeenskap.

Daarvan is die groot, wit kerkgebou in Hugenote­weg vandag nog ’n getuienis.

Maar toe was dit asof die wêreld Franschhoek ontdek het.

Ds Peet Bester, predikant van die NG gemeente op die dorp, vertel dat Franschhoek destyds ’n plek was waar mense ’n huis gekoop het as jy nie een in die Paarl kon bekostig nie.

Vandag besit van die wêreld se rykstes, mense soos Richard Branson, eiendom op Franschhoek.

Dit het die aard van die dorp laat verander. Van ’n rustige en homogene landbougemeenskap, het dit omvorm tot ’n heterogene gemeenskap waarin landbou steeds ’n rol speel, maar dan ’n mindere rol. Toerisme is nou die groot bron van inkomste op die dorp.

Nou het die kerk nie meer ’n vanselfsprekende sentrale plek in die gemeenskap nie, al is die kerkgebou nog gerieflik sentraal geplaas.

’n Gemeente soos Franschhoek moes vir hom ’n nuwe rol in ’n nuwe soort gemeenskap bedink – en daar­in speel gasvryheid ’n belangrike rol. Die tipiese Afrikaanse gemeenskap moet nou verwelkomend wees teenoor mense wat nie Afrikaners of Afrikaans is nie.

Daarom het hulle eredienste nou ’n akkommode­rende styl. Daar word moeite gedoen om vreemdelinge te verwelkom en om hulle tuis te laat voel.

’n Klein teken hiervan is die wit klippies uit die om­gewing met ’n kruis en die fleur de lis daarop saam met die teksverwysing na Openbaring 2:17 wat praat van ’n wit steentjie met ’n nuwe naam daarop.

Busse vol toeriste

Ook buite die eredienste om is die kerk verwelkomend. Die kerkterrein is byvoorbeeld ’n gerieflike parkeerplek vir toerbusse. Daarby is die kerkgebou oop sodat toeriste dit kan besoek.

franschoek-klippie

Die wit klippie wat besoekers aan Franschhoek se NG gemeente kry. Die fleur de lis langs die kruis is ’n simbool van die Hugenote.

Bester sê dis nie vreemd dat 15 000 mense in ’n November en Desember deur hulle kerkgebou beweeg nie.

Maar, sê hy ook, “dit is nie rimpelloos om in ­Fransch­hoek kerk te wees nie. Daar is uitdagings. Dinge verander onder jou voete.”

In ’n gemeenskap met baie ryk mense, mense wat voel dat hulle niks en niemand nodig het nie, ook nie vir God nie, kan jy nie wag dat hulle kerk toe kom nie.

Jy moet uitgaan en hulle in die gemeenskap gaan ontmoet, by plekke soos die hospice, of plekke waar hulle werk vir siviele kwessies wat nie altyd die kerk se kwessies is nie.

“Jy moet opdaag op ander plekke as gewoonlik,” sê Bester.

Daarby is die kloof tussen ryk en arm, tussen van die heel rykstes en heel armstes, nog groter as op baie ander plekke. Ook hier moet die kerk ’n rol speel.

Franschhoek se verhaal van aanpas, van soepel wees, van nuwe maniere soek om kerk te wees in ’n ver­anderende wêreld, is op ’n manier die verhaal van die kerk reg oor die wêreld.

As ’n pelgrim daar wegstap, oor die berg en tussen die fynbos deur, is daar baie om aan te herkou.

– Die Pelgrimstog van Hoop begin op Stellenbosch en strek tot by Kaap Agulhas. Meer besonderhede is beskikbaar by pelgrim@sun.ac.za, by 021 808 3382 of op die facebookblad Pelgrimstog van Hoop.

Word 'n vriend van Kerkbode