Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Verhaal van Christendom in ‘Eurafrica’ deeglik opgeteken

CHRISTIANITY IN EURAFRICA – A history of the Church in Europe and Africa
Deur Steven Paas
Uitgegee deur Christelike Lektuurfonds (CLF)
Resensie deur Frits Gaum


Hierdie is in elke opsig ’n formidabele werk. In 552 bladsye vertel dr Steven Paas die merkwaardige verhaal van die Christendom in Europa en Afrika. Hy begin by die oorsprong van die kerk in Jerusalem tydens die Romeinse bewind, skryf oor die Vroeë Kerk, die Kerkvaders, die kerk in die Middeleeue, die Kruistogte, die Re­for­masie in Frankryk, Nederland, Engeland, Skotland, die Verligting … En dan skuif hy oor na Afrika en vertel hoe die kerk en die Christelike geloof in Wes- en Suider-Afrika gevestig is, in Malawi (waar hy jare lank ’n dosent was), in Zambië en Zimbabwe …

christianity-in-eurafricaPaas skryf oor kerk en ideologie, die kerk onder kommunisme, die kerk en die Nazis, sending en kolonialisme, die vrou in die kerk … en uiteindelik ook oor “lesse uit die geskiedenis”. Hy skryf: “The history of persecutions and attacks by heresy has taught that loyalty to Christ and the Scriptures is a necessity for the Church and for all individual Christians. This implies that the Scriptures be made available to all people in their local languages. The Church also needs faithful pastors and elders.” Hy beklemtoon dat evangelisasie- en sending-uitreike ’n prioriteit was en sal moet bly, “otherwise the Church could not continue to deploy.”

Paas waarsku dat die kerk versigtig moet wees hoe by die plaaslike kultuur aangepas word. “In history many have mixed the Gospel with their traditional religion. This has weakened or taken away the witness of the Church.” Hy meen dat sommige aspekte van die kultuur gebruik kan word om geloof in Christus uit te druk, “but glorification of humanity, superstitions, magic and witchcraft cannot be part of that”.

Die Nederlander Steven Paas het aan die universiteite van Amsterdam en Apeldoorn studeer, en in Malawi aan die Zomba Theological College gedoseer. Hy het indrukwekkende kennis van die Christendom in Europa én Afrika en meen dat niks die twee kontinente méér verbind as die geskiedenis van die Christendom nie. Dit was Europese sendingaksies wat die Christelike geloof veral in die 19de en 20ste eeu in Afrika laat wortelskiet het, en vandag, in postmoderne tye, is dit Afrika-Christene wat uitgedaag word om die kerk in gesekulariseerde Europa te herplant: “… the future of European Christianity depends largely on a much-needed shift to mission-mindedness in the African churches,” skryf hy. 

Paas is ’n Skrifgetroue teo­loog met vaste oortuigings. Sy benadering tot  hedendaagse uitdagings wat aan die uitdra van die evangelie gestel word, sal moontlik in sommige kringe vrae oproep. Daar kan eg­ter nie twyfel wees nie oor sy omvattende kennis van die kerkgeskiedenis en toe­gewyde teboekstelling daarvan in ’n werk wat on­getwyfeld groot waarde sal hê vir almal wat meer te wete wil kom oor die geskiedenis van die kerk in Europa en Afrika. Aan sy bedoeling  met die werk – “It is meant as an introduction to the study of the field of Church History from the New Testament era to the end of the 20th century” – het hy beslis uitvoering gegee. CLF het met die publikasie van hierdie boek aan baie mense, juis ook aan teologiese studente in Afrika-lande, ’n groot guns bewys.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top