Krulkop-Kara sit haar voet neer

Kara van der Merwe was nooit soos ander kinders nie: Sy het kleindag eerder Fiela se kind gekyk as Teletubbies. Nou is sy 15. En steeds min gepla oor wie die jongste tiener-celeb se nuwe boyfriend is. Sy sit eerder haar voet neer teen kindermolestering. Annalise Wiid het langs haar gaan staan.


Kara wou van altyd af aktrise word – behalwe vir die keer toe sy ’n perd wou word, maar dit was oor sy ’n fliek gesien het waarin ’n perd die hoofrol speel. Sy’s ook ’n gebore filantroop. Op 12 wou sy al ’n veldtog begin om kinders te help wat sonder skoene leef. Nou help sy kinders op ’n ander, groter, manier.

Kara speel die rol van Carli, die jonger sussie, in Dis ek, Anna, die fliekweergawe van Anchien Troskie se gelyknamige boek. Die fliek het haar so aangegryp dat Kara Sit jou voet neer in Julie 2015 geloods het: ’n Bewusmaking- en fondsinsamelingveldtog. Sy wil mense aanmoedig om standpunt in te neem teen seksuele geweld teen kinders.

Ek, Annalise, wou nie die fliek gaan kyk nie. Ook nie die boek lees nie. Die tema ontlok weerstand en aaklige emosies in my. Maar wat ’n mens wil vermy, kom lê soms ongevraag langs jou: Ek en Kara word genooi om saam op te tree by ’n vrouetee van Keimoes se NG gemeente Neilersdrift. Vooraf word ons saam bederf met ’n pedikuur by ’n wonderlike spa. Armlengte van my af lê krulkop, goeie-hart Kara. Ek begin uitvra. Sy vertel besielend van Sit jou voet neer terwyl terapeute ons voete sagkens pamperlang …

Carli se storie

“Dit het nie met my gebeur nie,” sê sy heel eerste. Haar storie is anders as Carli, haar fliek-karakter, s’n. In die fliek werk dit so: Anna se ouers skei. Later sterf haar pa. Toe dit gebeur, verloor Anna haar vlugplek, vertel Kara. Anna se ma trou toe weer en Carli word uit die tweede huwelik gebore – met ander woorde Carli is eintlik Anna se stiefsussie.

Kara se ma, Mariza, gee haar ’n stywe, trotse druk na afloop van haar praatjie by Neilersdrift se vrouetee. Foto: Annalise Wiid

Kara se ma, Mariza, gee haar ’n stywe, trotse druk na afloop van haar praatjie by Neilersdrift se vrouetee. Foto: Annalise Wiid

Die stiefpa molesteer vir Anna. Hy dreig: As jy nie stilbly en saamspeel nie, gaan ek dit met Carli ook doen. Anna sê wel vir haar ma én vir die dominee. Hulle glo haar nie. Help haar nie. Toe Anna swanger word, gaan sy weg.

Jare later kom Carli, toe 16, haar soek en konfronteer: Hoekom het jy my nie beskerm nie, Anna? Maar Anna het gedog sy het! Sy het dan alles verduur en “saamgespeel” juis sodat Stiefpa vir Carli moet uitlos! Hy het nie. Dié besef is ’n mespunt-oomblik: Ook Carli het harder en harder geskree; en niemand het gehelp nie.

Dowe ore

Hoeveel kinders se krete val op dowe ore? Die statistiek is skrikwekkend, sê Kara. Maar dis eintlik die ding van die generasies wat haar gal werk.

“My ouma het vir ons vertel van die onderwyser wat hulle gehad het – hy het so aan die meisies gevat. En my pa sê by hulle was ’n seun met wie dit ook gebeur het. En hier is ek, van ’n volgende generasie en ek sien met hoeveel kinders gebeur dit steeds: 3 uit 5 dogters, 2 uit 5 seuns in Suid-Afrika word aan seksuele molestering blootgestel deurdat iemand vir hulle eksplisiete materiaal wys, met hulle daaroor praat, aan hulle vat, of erger. Dit hou dan nie op nie!”

Haar oë is groot, hartseer. “Ons generasie móét opstaan, prontuit sê dis verkeerd, ons voet neersit, praat oor die gevolge … Maar ons het die ouer generasies nodig om ons daarmee te help!”

Kara het op Potchefstroom grootgeword. Haar ouer suster, Maxine (21), studeer nog daar. Kleinsus, Lienka (6), en haar ouers, Leon en Mariza, woon deesdae op Greyton, waar hulle ’n gastehuis en restaurant bedryf. Kara home school vanjaar, sodat sy tyd kan inruim om by skole en ma-en-dogter-tee’s te praat oor Sit jou voet neer.

Vanoggend, voor ons spa-behandeling, het Kara reeds vier praatjies by skole in die Keimoes-omgewing gelewer. Netnou, as ons klaar is, wag nog drie … Ná sy vanoggend by die laerskool gepraat het, het een dogtertjie begin huil. Dan weet ’n mens mos. En jy wonder hoe gaan sy weer heel word. Wie gaan haar help?

Wyse vrou

Die terapeut se hande wat rustig my voete vryf, herinner my aan ’n wyse vrou: Destyds, nadat vriende van my se dogtertjie verkrag is, het dié vrou haar skoonheidsalon toe geneem: vir ’n rugmassering en manikuur – dat sy net weer veilige aanraking kon voel. En mooi hande kan sien.

Kara het by Childline gaan werk om meer te leer oor die groot taak en noodsaak van opvang en luister en heelmaak. “Hulle het al die nodige expertise om kinders te help. Ook wonderlike boekies wat spesiaal geskryf is, amper soos vir skool – want hulle moet die kinders van nuuts af leer wat reg en verkeerd is.

“Ek was geskok om te sien daar is boekies vir 0-2 jaar. Ag, jinne, dis sulke klein kindertjies! My eie sussie is 6. Maar dit help my. Ek weet hoe ek met haar praat. So, ek praat op dieselfde vlak met die kleintjies by laerskole. ‘Daar was ’n apie en ’n jakkals,’ vertel ek vir hulle. ‘Die jakkals was ’n famielievriend. Apie het hom vertrou. Eendag sit Jakkals ’n skerp klip onder Apie se arm. Steek dit weg, fluister hy, dis ons geheim. Apie kry seer. Apie is skaam …’ Ons het ook ’n temaliedjie: The beat of our feet.”

Kara praat natuurlik ook met hoërskoolleerders en volwassenes. “Dis moeilik. ’n Mens wil niemand bang praat nie. Net waarsku. En, ja, soms ook konfronteer. Die ou gesegde, ‘kinders moet gesien word, nie gehoor nie’ is verkeerd. Kinders móét gehoor word!” Kara is kaalvoet, kaalvuis. Maar nie skerp nie. Gevoelig, intelligent, inspirerend.

Kara, die spreker, vat die verhoog by Neilersdrift se vrouetee. The way she carries herself vang die gehoor in ’n speldval-stilte vas: Sy is ’n versnit van onskuld, kennis, vasberadenheid en hoop. Kara praat oënskynlik maklik. Kort. Tien minute, toe is sy klaar. En die gehoor is anders: Meer ingelig, bemagtig, gereed vir ferm voet-neersit.

Vals skuld

“Dit is nie jou skuld nie,” beklemtoon sy vir die slagoffers. Skaamte en vals skuld word ’n wrede, verwikkelde las vir slagoffers. Dit hou hulle gevange, laat hulle stilbly. So kom die oortreders skotvry. Slagoffers kan egter survivors word deur te praat. Snaaks, die woord “survivor” het mos meer woema as oorlewende.

kara-annalise-en-ander

Na afloop van Kara se optrede het sy en Annalise (met die pienk trui) skoene uitgetrek saam met verskeie vroue wat die geleentheid bygewoon het, om voet-foto’s te neem vir Sit jou voet neer se facebookblad.

Waar kry Kara woema? Haar wyse ouers het goed gedink oor haar filmrol as Carli. Hulle het haar vooraf net sekere dele van die draaiboek laat lees. Later eers die volledige fliek laat kyk. Hulle help Kara fyntrap op die duwweltjiepad: Beskerm waar nodig, troos haar as die saamgestelde ellende van baie kinders op baie plek­ke te veel raak.

Oor God sê Kara: “Ek het nooit gevoel ons is ’n gesin van net vyf nie. Altyd ses. Hy was nog altyd deel van ons. Bid is chat. Terwyl ek koffie maak of hare was. Nie formeel nie. Natuurlik, soos asemhaal. Hy is in die gehoor as ek met mense praat. Goedkeurend. Ek perform nie vir Hom nie. Ons is ’n team. Ek weet God voel die slagoffers se pyn. En Hy wil help.”

Hoe voel God oor die oortreders? Daarmee sukkel sy, eerlik: “Ek moet nog daaroor dink. Dis moeilik.”

Ja, sy is senuweeagtig voor sy iewers gaan praat. Omdat jy op dun ys van teer emosies beweeg? vra ek.

“Nee,” antwoord sy dadelik, “die ys word al hoe dikker onder my. Elke keer as ek iewers optree, staan daar meer kinders agter my. Ons kollektiewe stem word al hoe harder, meer beslis. Dis eerder dat ek senuweeagtig voel oor of ek die regte woorde sal kies om die omvang en skrikwekkendheid binne tien minute vir die gehoor deur te gee. En hulp en hoop vir die kinders.”

Die haas onverwoordbare verklank moeilik.

Gister, by die hoërskool, was daar ’n meisie. Sy het my vreeslik styf kom druk na die tyd. Ek weet: Iets in daai druk sê dankie – dankie dat jy weet, dat jy verstaan, dat jy praat waaroor ek nie kan nie!”

Duidelike stem

Kara is ’n sagte, duidelike stem vir die stemloses. Sy gee vir kinders woorde om oor hulle ervaring te kan praat. Sy spoor ook ouers en volwassenes aan: Praat met julle kinders: voorkomend, beskermend, bevrydend, bemagtigend. En as daar molestering was: helend, troostend, begrypend. Slegs een uit elke nege kinders praat as dit met hulle gebeur het. Sê dit nie alreeds genoeg nie? Van die vrees. En die bedreiging wat hulle ervaar. Die skaamte, vernedering, die isolasie.

Daarom werk die Sit jou voet neer-beeld so goed. Dit sê meer as wat blote woorde kan. Oral waar sy gaan neem Kara foto’s van voete. Haar voete saam met celebs, slagoffers, kinders. Saam met enigeen wat saam met haar voet neersit: Tot hier toe en nie verder nie. Stop alle geweld teen kinders. Nou!

Soms skerm mense: My voete lyk nie goed nie, dis onversorg; ek kan nie my skoene voor ander uittrek nie. Dan vra Kara net: “Dink jy die gemolesteerde kind het enigsins ’n keuse gehad oor uittrek of nie?”

Sy weet nie hoe lank sy met die Sit jou voet neer-veldtog sal voortgaan nie. Dalk gee sy dit eendag oor aan Childline. Maar wat doen sy dan? Sy móét iets doen. Onbeteuelbare filantroop. “Die armoede oral om ons – het jy gesien daar’s kinders wat sonder skoe­ne skool toe kom in minus-temperature,” vra sy, opreg ontroer.

Maar dis anderdag se deuntjie daardie. “Môre,” vertel sy, “gaan ek Black Rock toe, naby Hotazel. En die mense van Warm Sand soek my ook nog.” Skerp Klip. Hel-warm: Pynlike plekke om jou voet neer te sit ter wille van ander se heelword.

– Besoek www.sitjouvoetneer.co.za, die facebookblad Sit jou voet neer en www.childline.org.za vir meer inligting.