Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gays: Handhaaf die besluite, vra 23 studente

’n Groep van 23 voornemende predikante van die NG Kerk het die buitengewone Algemene Sinode gevra om die besluite oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag van die Algemene Sinode van 2015 te handhaaf en onmiddellik in werking te stel.


Die groep se volledige beskrywingspunt aan die vergadering lui só:

BESKRYWINGSPUNT VAN NG KERK VOORNEMENDE PREDIKANTE VAN DIE TEOLOGIE FAKULTEIT STELLENBOSCH AAN DIE BUITENGEWONE SINODESITTING IN NOVEMBER 2016

Uit die mond van voornemende NG predikante – ’n jong stem

Aangaande die 2015 Algemene Sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings voel ons dit is tyd dat ons stem gehoor word. Die besluit bepaal immers die toekoms van die kerk, waaraan ons, ons lewens toegewy het. Hierdie is ’n gevoel onder van die jong voornemende predikante van die Stellenbosch se Fakulteit Teologie. Ons nooi julle uit om verder na ons harte te luister. Ons voer graag drie oorwegings aan.

Eerstens is dit vir ons noodsaaklik om verantwoordelike en deeglike hermeneutiek toe te pas wanneer dit kom by die lees van die Bybel. Om die Bybel selektief en letterlik te lees is bloot net te gevaarlik. Prof Louis Jonker (in sy artikel “Verantwoordelik lees moet só lyk”, Kerkbode van 5 Februarie 2016) en prof Julie Claasens (in haar artikel “Om die ‘shooter texts’ te ontwapen”, Kerkbode van 6 September 2016) maak sterk argumente aangaande verantwoordelike hermeneutiek. Hulle werke en lering dien as begronding dat selfdegeslagverhoudings nie ’n gruwel in die oë van die Here is nie en behoort in die kerkpraktyk aanvaar te word.

Tweedens neem ons nie ons geskiedenis ligtelik op nie. Ten opsigte van die progressie wat gemaak is in die aanvaarding van alle rassegroepe in die kerk, en vroue in die amp, sien ons dat die gees van reformasie nog sterk in ons mense is. Wanneer dit kom by die uitsluiting van mense op grond van hul seksuele oriëntasie, glo ons die kerk moet getrou bly aan die Reformatiewe tradisie en hou by die 2015-besluit. ALLE mense is geskape in die beeld van God en is hul plek in die kerk geregverdig.

Derdens droom ons van ’n NG Kerk waar niemand uitgesluit word, of op enige vlak teen gediskrimineer word nie. Hierdie kerk staan vir menswaardigheid, inklusiwiteit en geregtigheid. ’n Kerk waar Christus bely word as Verlosser van almal. Waar God, deur Christus, gelyk is aan liefde en waar die kerk erken dat liefde, liefde is. Ongeag die individu se oriëntasie. In ’n land waar apartheid, uitsluiting en veroordeling steeds op die voorgrond is, behoort die liggaam van Jesus, die kerk, werklik oor verdere uitsluiting te tob?

Ten slotte is ons hartseer daaroor dat so baie lidmate in die kerk op ’n blatante manier die menswaardigheid van mense wat anders dink en anders voel wil minag en afmaak as iets wat skynbaar buite die raamwerk van God se liefde val. Ons wil ook uitlig dat ons die 2015-besluit van die Algemene Sinode aangaande selfdegeslagverhoudings sien, nie net as ’n ander benadering nie, maar werklik as ’n merkwaardige vordering in ons verstaan van ware liefde, God se liefde, en die teologie self. Daarom is ons voorstel dat die 2015- besluit soos dit geneem is en tans staan, geïmplementeer word.

Voorstel: Dat die Algemene Sinode van 2015 se besluit oor selfdegeslagverhoudings gehandhaaf en onmiddellik geïmplementeer word.

Ons hoop ons stem word nie net gehoor nie, maar na geluister.

Onderteken deur voornemende NG predikante van Stellenbosch Universiteit se teologie fakulteit:

  1. Stefan de Klerk — Teologie BDiv
  2. Lionel Hutton— Teologie BDiv
  3. Floris Voges — Teologie BDiv
  4. Melissa Ellis — Teologie BDiv
  5. Zahn-Mari — Terblanche Teologie BDiv
  6. Marizanne Pfeil — Teologie BDiv
  7. Hanli Groenewald — Teologie BDiv
  8. Jan Coetzer — Teologie BDiv
  9. Andene van den Berg — Teologie BDiv
  10. Jaco Botha — Teologie (Lisensiaat)
  11. Karlie Liebenberg — Teologie BDiv
  12. Mardi Strydom — Teologie BDiv
  13. Ruan van Niekerk — Teologie BDiv
  14. Corlia Esterhuyse — Teologie BDiv
  15. Le-Anke De Lange — Teologie BDiv
  16. Emelia Swannepoel — Teologie BDiv
  17. Gerhard Meyer — Teologie BDiv
  18. Scherlize Hayes — Teologie MDiv
  19. Robert-John de Kock — Teologie MDiv
  20. Ruan Nieuwenhuizen — Teologie MDiv
  21. Madelein Geldenhuys — Teologie MDiv
  22. Lourens Bester — Teologie MDiv
  23. Luane Buys — Teologie MDiv
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top