Groei het nie ’n ouderdomsperk nie

Groei is ’n groot woord as ’n mens nog leer om te lees – ’n hele vyf letters! Groei is ook ’n groot woord in gemeenskappe en verhoudings – dit spruit stil-stil uit vormende verbintenisse en dra verrassende vrug. Dít ondervind die kinders sowel as die afgetrede grootmense van Hoekwil se leesprojek weekliks. ANNALISE WIID het een Donderdagmiddag saam met hulle gaan groei.


Hoekwil is pragtig! Die klein dorpie in die Suid-Kaap lê lepel agter die groter, baie bekende Wildernis se rug. Skaars 5 km vanaf die N2, deur die vlei, en oor die rant, skuil die klein juweel.

Hoekwil se dorp-hart het vier kloppende kamers, wat bruis van mens-aktiwiteit: In die middel staan die NG gemeente Die Vleie se kerkgebou. Weerskante daarvan is ’n groot aftree-oord en ’n bedrywige deli met vrolike bont vlaggies al om die stoep. En net oor­kant die straat lag kinders op die laerskool se speelgrond. Rondom die dorp lê welige groen melkplase, natuurlike woude en denneplantasies. En effe opsy die woonbuurt Touwsranten.

Ds Hans Roux (links) help vir Cheslyn Snyman by hulle tafel op die verhoog.

Ds Hans Roux (links) help vir Cheslyn Snyman by hulle tafel op die verhoog.

Magda van Zyl wag my verwelkomend voor die kerk­saal in. Ek vra nie uit nie. Aanvaar sommer sy is die kerk se sekretaresse. Kom eers later my fout agter.

Sy stel my voor aan Hans en Valerie Roux, die dryf­krag agter Die Vleie se leeshulp-projek. Ons herken mekaar dadelik. Het al vantevore ontmoet, toe Hans nog predikant was op Worcester. Dit gaan ’n lekker middag word …

Binne wag klein tafels, elk met twee blou sagte sitplekstoele, reeds netjies en buite hoorafstand van mekaar gerangskik. In die saal, op die verhoog en in die klein vertrekkies langsaan. Die kinders gaan nou-nou hier instorm, sodra die skool uitkom.

Intussen pak Hans prettige leesboeke voor op die verhoog uit. Hy groepeer dit volgens vlakke van leesvaardigheid. Van heel-in-die-begin se eenvoud, tot ’n bie­tjie verder tot nog ’n bietjie moeiliker. En lekkerder.

tannie-en-seun

Valerie Roux en Nickolus Klein is besig met ’n woordspeletjie terwyl die ander koppe gebuig besig is om te lees.

Valerie sorteer papiere; pak potlode, skêre en plas­tiek­sakkies met woorde op ’n tafel uit. Die kinders word met ’n bussie aangery van Laerskool Touwsranten af. Die grootmense wat hulle met leesvaardigheid kom help, stap meesal sommer straat-af tot by die kerksaal.

Almal is ooglopend bly om mekaar te sien. Glimlagte. Gretigheid. “Daar’s jou oom,” hoor ek ’n opgewonde stemmetjie.

Gou verdeel hulle in klein groepies. Nie meer as twee kinders by elke volwassene nie. Heel eerste sing die kinders vir my ’n dankie-liedjie wat hulle spesiaal geoefen het. Omdat ek vir Kerkbode oor hulle kom skryf.

Hulle moes dit eintlik gesing het wanneer ons totsiens sê, maar hulle kan nie wag nie, het te lank uitgesien. Klaar gesing, gaan die grootmense en kinders saam verhoog toe. Die kinders kies self uit watter boekies hulle wil lees. Dan koers elke groepie na hulle eie tafeltjie toe en sit koppe bymekaar.

Ek dwaal tussen hulle deur. Neem foto’s. Luister. Verkyk my: geduld en aanmoediging vat hande met leergierigheid en plesier. “Kyk,” beduie ’n vrou met ’n sagte stem, “die b se magie bult hierdie kant toe, en die d s’n staan daai kant toe, sien jy?”

By ’n ander tafel lê ’n klomp los woorde uitgesprei. Hier word sinne gebou. Een van die kinders wil ’n sin maak met seun. Hy vat egter die woord neus. “Klank hom vir my,” vra sy grootmens-helper. “N-e” begin hy, en snap dadelik: “Nee, maar dis mos neus dié; ek soek vir seun!” Baie in sy noppies dat hy die verskil so gou kon sien.

Adriano Jansen (links) moet mooi kyk om nie “seun” en “neus” met mekaar te verwar nie. En tannie Maggie Heyneke is amper blyer as hyself wanneer hy die regte ene kies. Regs is Floressa le Roux ook besig om woorde uit te soek. Foto's: Annalise Wiid

Adriano Jansen (links) moet mooi kyk om nie “seun” en “neus” met mekaar te verwar nie. En tannie Maggie Heyneke is amper blyer as hyself wanneer hy die regte ene kies. Regs is Floressa le Roux ook besig om woorde uit te soek.

Een dogtertjie lê met haar kop teen ’n tannie se ­skouer en luister lekker terwyl haar maatjie voorlees. Party haak nog by baie woorde vas. Ander lees al feitlik vlot.

‘Ag nee, Oom’

Na ’n halfuur se saamlees, slaan een van die kinders die ghong: Kadwa! “Ag nee, Oom,” sê Hans se seuntjie, teleurgesteld. Die enetjie by Magda se tafel loer vinnig hoeveel blaaie van sy boek nog oor is. Kyk verlangend na haar. Wens hy kon dit nog gou klaar lees. Maar hulle moet groet; die bussie terug Touwsranten toe wag. En daar, by Seven Passes (’n plaaslike gemeenskapsontwikkelingaksie) se huiswerkprogram, wag sop en broodjies.

Nadat die kinders weg is, koffie en koek die lees-helpers nog ’n rukkie gesellig saam. Die meeste van hulle is pensionarisse en lidmate van Die Vleie. Net twee is jongmense wat weekliks oorry van Wildernis af. Elke Donderdagmiddag van 14:00 tot 14:30 kom lees die grootmense saam met die kinders.

Hans vertel: “Eendag het Wilmi Dippenaar van Seven Passes by die kerk kom praat oor hulle werk in die gemeenskap. Sy het genoem dat hulle ’n leesprojek vir laerskoolkinders begin het, en hulp sal waardeer. Toe ons vra wie wil help, meld 22 vrywilligers aan!”

Dit lyk nie of een van die 22 spyt is nie. Inteendeel, hulle gloei behoorlik. Val mekaar amper in die rede om vir my te vertel hoe die betrokkenheid by die kinders hulle lewe verryk. En dis nie dat hulle le­we voor­heen arm was nie. Hulle kom uit interessan­te be­roepe en plekke. Maar die projek voeg op ’n be­son­dere manier lewenswaarde toe.

Vir Hans, die oud-predikant met die pastor-hart, is die betrokkenheid by die kind se lewe die beste: “Dit is so bevredigend om mettertyd die kind te sien oopmaak. Om te ervaar hoe verhouding ontstaan. ’n Mens leer ook sy omstandighede ken. My outjie het byvoorbeeld vandag vertel hy en sy ma het saam gepraat en hulle het besluit hulle gaan vir die goeie – hulle gaan ’n verskil maak. Dis wonderlik om sy vordering te sien.”

Salmon Gerber is ’n gebore Olifantshoeker. So het Hoekwil toentertyd bekend gestaan, toe sy pa daar patatranke gekweek het. Vir hom is betrokkenheid by die leesprojek ’n “sielsaak”. Hy weet waar die kinders vandaan kom, sê hy. Hy wens net elke Donderdag daar was meer tyd. Dit is so positief om te sien hoe die kinders probeer. En groei. Soms sak enetjie weer te­rug. Dan vermoed jy dit gaan seker weer swaar by die huis.

’n Geroepenheid

Willie Verwey, ’n oud-skoolhoof, en sy vrou, Rhea, glimlag oor die Touwsrantertjies. “Dis vir ons ’n geroe­penheid om te kan help,” sê hy. “Wie van die kinders sou andersins vandag ’n halfuur gelees het? Hulle sou waarskynlik net gespeel het, of dalk kattekwaad aangevang het. Dit is wonderlik om te dink ons maak ’n belegging om die kinders se toekoms te verbeter. Ons leer self ook baie – veral van die bruin gemeenskap. ’n Mens kry mos nie altyd die geleentheid vir kontak met ander gemeenskappe nie. Nou geniet ons dit so. Dis lekker kinders dié!”

Magda, wat ek met die ontmoet-slag as die sekretaresse aangesien het, is vandag vir die eerste keer hier. Afgetrede mense ry baie rond. Of kuier by hulle kinders wat ver woon. Hulle is nie vanselfsprekend elke Donderdag op die dorp nie.

So was daar toe vandag te min vrywilligers om individuele aandag aan al die kinders te gee. Toe vra Hans of Magda se Bybelstudiegroep nie wil kom help nie. En daar kry sy toe die oulike seuntjie wat nie wil ophou lees toe die ghong slaan nie. Wat haar hand vashou toe hulle groet. Dit was vir haar so lekker, sy dink hulle sal dalk van nou af elke Donderdag voor Bybelstudie eers ’n bietjie kom lees …

boekies

So lyk van die boekies wat in Die Vleie se leesklas gebruik word.

Valerie, Hans se vrou, is die baie beskeie, waagmoedige dryfveer agter die gemeente se betrokkenheid. Sy vertel: “Die eerste Donderdag was ek bitter bang! Ek weet nie wie dit die ergste ervaar het nie: ek, die vrywillige helpers (sommige van wie nog nooit met die onderwys van kinders te doen gehad het nie) of die kinders self nie. Maar meteens het ek die ou bekende gevoel ervaar: Dis maar net kindertjies vir wie ek iets kan gee en beteken, kindertjies wat ek kan lief hê. Dis net ’n groot kans wat aan my gegee word, sommer so, in my hande.

‘Waar daar liefde is …’

“En toe elke kind tuisgekom het by ’n helper, was ek diep dankbaar en verwonderd. Want, asof hulle al lang paaie saamgestap het, het helper en kind mekaar gevind en saamgewerk. Ek sien elke week hoe drukkies uitgedeel word, hoe kinders prys-plakkertjies op die kop kry; sien hoe ’n helper hande klap omdat ’n kind iets reggekry het, hoor hoe ’n kind skaterlag van vreugde – en ervaar met ’n diep en nederige wete: Waar daar liefde is, daar is God die Heer!

Natuurlik werk alles nie altyd uit soos ’n mens dit wil hê nie. Ons program en die skool se program bots soms of die vervoer is skielik nie beskikbaar nie of die sportbyeenkoms geniet voorkeur en dan is ’n mens maar geneig om gefrustreerd te raak. Maar die positiewe weeg soveel swaarder.

Ons weet nie of die leesprogram volhoubaar is nie. Ek weet net: Met soveel welwillendheid en gewilligheid, moet die kinders iets ervaar van hoe dit is as mense vir jou omgee. Hulle sal nie gou die oom of tannie vergeet wat hulle weekliks laat voel het dat hulle nie verloorders is nie, maar geliefdes.”

Wilmi Dippenaar, die direkteur van Seven Passes, is baie tevrede met die leesprojek se vordering en met die vrugbare samewerking wat tussen Die Vleie en Seven Passes begin groei. Gemeentelede het boeke geskenk wat hulle kleinkinders al ontgroei het. Die biblioteek gee maandeliks ’n blok-lening van 20 boeke. “Laat die kinders tog net lees!”

’n Graad een-onderwyseres het die vrywilligers kom touwys maak. En ná elke lees-sessie word ’n verslagvorm voltooi om die kinders se vordering te moni­tor. Kinders wat te stadig vorder, word na ’n reme­dië­rende onderwyser verwys.

“Ek sien wonderlike groei op alle vlakke,” sê Wilmi. “Nie net wat leesvaardigheid betref nie; ook in die gemeenskappe se nader groei aan mekaar. Ons almal blom!”

Besoek ook www.sevenpasses.org.za vir meer inligting.