Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dit reën P12

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Chummy de Bruin skryf namens die NG gemeente Vanzylsrus:

Gewoonlik meet ons in die Kalahari reën in millimeter, maar danksy die skenking van R200 000 uit die NG Kerk se droogtehulpfonds, het uitkoms hierdie keer in die vorm van P12 gekom met ’n geskenkpakkie by: ’n reënmeter om ons aan te moedig om te bly hoop, ’n gebed op ’n yskasmagneet om ons daagliks afhanklik van Hom te hou.

Ds Christo Jonck van Kuruman-Die Oog het ons boere se nood raakgesien en by die algemene sinode se fonds om droogtehulp aansoek gedoen vir die Ring van Deben se vier noordelike gemeentes: Kalahari, Kuruman-Moedergemeente, Kuruman-Die Oog en Vanzylsrus. R200 000 se P12, ’n hoogs doeltreffende veevoer, is aangekoop – ’n hele 680 voersakke. Eenhonderd en veertig boere het elkeen vyf sakke P12 ontvang.

Dankie aan elkeen wat ’n vinger in hierdie “pastei” gehad het. Om R500 te betaal vir vyf sakke was die bonus van die jaar. Dit is ’n druppel in die emmer, maar elke druppel tel en ons sê baie dankie. Die droog­te is steeds ernstig, weiding is skraps en baie boere moes veegetalle baie verminder. Maar ons kyk hoopvol op na Bo waar ons hulp nog altyd vandaan kom en kan maar net vra: Stuur ons net ’n bietjie reent!

Ons sien hierdie onbaatsugtige daad as ’n hand wat van een Christen na ’n ander uitgesteek word in tye van nood en hoop dat ons binnekort kan berig van milde reëns oor ons Kalahari asook die hele land.

Mag ware Jesusliefde ons lei om nie net in die diere se nood na voer om te sien nie, maar elke medemens se “geestelike droogte” en so ons roeping as Christene uit te leef en sy wonderlike boodskap van hoop oor die hele aarde te versprei. Mag Hy ons die nodige krag en leiding gee om hieraan te voldoen.


Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top