Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die kerk moet wag

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Lukas begin sy verhaal oor die kerk in Handelinge 1:4 deur te vertel hoedat Jesus ná sy opstanding vir sy volgelinge ’n ietwat vreemde opdrag gegee het. Vreemd deurdat Hy hulle nie versoek het om so vinnig as moontlik met hulle sending na die wêreld te begin nie, maar eerder om in Jerusalem te bly wag op die gawe wat die Vader belowe het.

Vir haar taak het die kerk nie net krag nodig nie. Sy het ook die vermoë om te kan wag nodig. ’n Wesens­eienskap van getrouheid aan God in Handelinge is daarom telkens om op die Here se leiding te wag.

Met die neem van belangrike besluite het die geestelike leiers van die kerk in Handelinge byvoorbeeld saam gebid en gevas voor besluite geneem is (Hand 13:3; 14:23).

Om te vas is om vir ’n tyd lank met ’n verwagting te leef dat die Here iets gaan doen. Dit is om te erken dat die uitdra van God se koninkryk nie deur gelowiges se eie krag, volgens hulle eie besluite of skedule geskied nie, maar volgens die ingrepe van die lewende Here.

Die kerk in Jerusalem moes daarom op sowel die krag van die Here, as die regte tyd wag om deel te neem aan God se sending na die wêreld. Dit is belang­rik om te besef dat die regte tyd nie noodwendig ’n gunstige tyd volgens menslike kriteria beteken nie.

Só begin die kerk se sending na die wêreld in Handelinge as gevolg van hulle vervolging in Jerusalem (Hand 8:1-4). Met tye was dié wagperiodes te danke aan weerstand en vertragings. Vanaf Handelinge 21:26 is Paulus byvoorbeeld ’n gevangene wat wag dat sy verhoor afgehandel moet word.

Lukas se vertelling van Paulus se gevangenisskap is dan ook amper net so lank as sy skets van sy sending­reise. Dit is opvallend hoe Handelinge elkeen van die ver­tragings en ontberings (bv tronkstraf en skipbreuk ly) as geleenthede skets.

Die kerk moet daarom leer om tye van weerstand en frustrasie te herken as wag-tye. Tye waarin die Here haar voorberei vir ’n nuwe roeping. Die verwagting wat die kerk het op God as lewende en handelende God behoort ook haar optrede in die wag-tyd te bepaal. Sy moet leef met ’n verwagting dat God iets gaan doen en oop wees vir nuwe geleenthede.

Dr Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top