Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Petrus Moolman (emeritus) skryf:
Die berig oor die opleiding van predikante en gesprekke daaroor verbaas my. Ek sal graag wou uitvind hoeveel NG leraars – soos ekself – voorgraadse studies aan UP Buitemuurs voltooi het, en daarna met prysgawe van die werk en posisies vir vier jaar voltyds na die teologiese fakulteit gegaan het. Daar is bekende leraars wat hierdie pad gestap het.
Uit die gesprekke lyk dit of die oorweging om nou “hulpleraars” op te lei, die eerste keer is. Dit is nie.
Almal van ons wat daardie pad gestap het (in my ’76-klas was daar ’n hele paar) het dit met prysgawe van baie goed gedoen. Ons het ’n beroep prysgegee (in my geval 12 jaar), met ons gesinne die kweekskooljare gedoen en anderkant uitgekom. Niemand het dit ooit as opoffering beskou nie. Dit was die roeping wat jou deurgedra het.
Verder het die finansiële ondersteuning gekom van eggenotes wat gewerk het, sommige het beurse bekom en die meeste het universiteitsvakansies uitgespring en geld bymekaargemaak op baie maniere.
In kort, die Here deur sy groot voorsiening het dit moontlik gemaak en ons kon ons roeping vervul. In my lewe was dit die tyd toe ek die Here se wonderlike voorsiening die sterkste ooit beleef het.
Ek wil nou reeds waag om te sê dat die verkorte opleiding van hierdie “hulpleraars” presies dieselfde gevolg gaan hê as die destydse sendelinge wat by Wellington status-erkenning gekry het en in plaas van eerwaarde ook dominee geword het. Hulle het bekend gestaan as die “donkies”. Ons moet oppas dat ons nie hierdie stuk neerhalende geskiedenis herhaal nie.
Ontwerp ’n kursus wat mense deeltyds kan doen met sporadiese kontakgroepsessies met teologiese fakulteite om volwaardige opleiding te kry, soos voltydse studente – met gelyke status. Dit gaan deursettingsvermoë vra, maar dis ’n goeie eienskap vir ’n predikant om te hê!
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
