Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Gawie Pistorius van Bloemfontein skryf:
Afrikaanse Bybelvertalings is al baie jare met ons. Die eerste Afrikaanse weergawe was die ‘Ou Vertaling’ wat in 1933 verskyn het, en weer in 1953 aangepas is. Die ‘Nuwe Vertaling’ het in 1983 verskyn. Die eerste proewe van ‘n nuwe ‘Direkte Vertaling’ het ook alreeds verskyn. Twee ander ‘nie-amptelike’ vertalings is Die Boodskap (2002) en die Nuwe Lewende Vertaling (2006).
Baie redes word aangevoer waarom herhalende nuwe vertalings van ou geskrifte nodig is. Al sulke redes kan aanvaar word, solank die wese van die teks en boodskap net nie verander word nie. Ongelukkig vind dit onvermydelik wel plaas. Ek wil graag twee voorbeelde aanhaal met die Nuwe vertaling (1983) (NV) en die Nuwe Lewende Vertaling (2006) (NLV) as voorbeelde.
Matteus 16:23 beskryf Jesus se reaksie nadat Petrus Hom berispe het.
(NV) Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan!
(NLV) Maar Jesus het Hom omgedraai en vir Petrus gesê: ‘Gee pad agter My, jou satan!
Die NV dui vir my op ‘n wonderlike eienskap van Jesus, naamlik dat Hy die sondaar liefhet, maar die sonde haat. Daarom spreek Hy nie vir Petrus direk aan nie, maar wel vir Satan (met ‘n hoofletter). Volgens die NLV spreek Hy Petrus direk aan en noem hom ’n satan (met ‘n kleinletter). Dit verander die hele wese van die teks.
Filippense 4:6
(NV) Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
(NLV) Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen.
Daar bestaan ‘n absolute verskil tussen ‘begeertes’ en ‘behoeftes’. Hierdie teks dui op die stappe wat nodig is om die vrede van God te kan ervaar. My begeertes sluit die slegte begeertes ook in, en dit is juis dit wat my van God se vrede weerhou. Deur hierdie slegte begeertes ook aan God bekend te maak (skuldbelydenis) kan ek sy genade, en dus ook vrede, ontvang. Deur slegs alles wat ek nodig het (inkopielys) vir God te vra gaan my nie hierdie vrede besorg nie.
Hierdie is slegs twee voorbeelde. Geen menslike vertaling sal egter ooit die volkome wese van God se oneindigheidsdimensie aan ons kan oordra nie. Daar moet egter gedurig daarteen gewaak word om verwarring in die gemoede van gelowiges te skep.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
