Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Johannes Richter skryf:
Ons lees in 1 Konings 3 hoe Salomo oor ‘n onmoontlike situasie moes besluit. Twee prostitute staan voor sy regstoel. Een se kind is in die nag dood, en sy ruil toe haar dooie baba om met die lewende kind. Hoe gaan Salomo bepaal wie die oorlewende kind moet kry?
Nou, met die debat oor selfdegeslagverhoudings, maak ons weer staat op wysheid. Albei kante is, moreel-gesproke, nie die mees betroubare getuies nie. Maar elkeen hoop vir ‘n beslissing in sy guns…
“Slag die kind”, hoor ons Salomo se opdrag. Daarna kan elkeen mos met sy regmatige aandeel en ‘n skoon gewete sy eie pad gaan.
Hoe verskriklik is dit nie om in so ‘n regter se hande te beland nie!
Dis dalk iets waaroor die Joodse Christene ook vlugtig gewonder het toe Paulus sy saak teen die besnydenis so duidelik gestel het: sny dan maar alles af.
Paulus het waarskynlik iets by Salomo geleer. Dis tog hy wat in Handelinge 21 die Gees anders gehoor het as die kerk. Selfs nadat gelowiges – onder leiding van die Gees – uitgewys het dat hy in Jerusalem gevange geneem sou word, kies Paulus steeds die dwasepad, klaarblyklik téén God se wil.
Dalk kan ons iets leer uit Paulus se bomenslike onderskeidingvermoë.
Die groot vraag op daardie stadium was: Was God se groot verlossingsdaad beperk tot die volk wat Hy self uitgekies het, of kon die sondige, wettelose nasies daaraan deel?
Enige Christen behoort te weet wat Paulus se antwoord was: God is nie uitgelewer aan die godsdiens of tradisies wat rondom Hom gevorm het nie. Die sabbat is bedoel vir die mens, en nie die mens vir die sabbat nie.
Toe God sy Seun aan die wêreld se regters uitgelewer het, kon al die wette, tradisies en godsdiens hulle nie in staat stel om God in Hom te herken nie. Hulle wysheid was toe dwaasheid. Hulle het hierdie hulpbronne ingespan om die kind se identiteit te bevraagteken en sy lewe uitmekaar te skeur.
Paulus was een van hulle.
Die waarheid is, die onderhouding van wette en geskrifte bied niemand die voordeel van die twyfel nie. Dit dien slegs as ‘n platform vir liefde om mense toe te laat om in vrede saam te leef. Wat die mens se verhouding met God betref, het Jesus alle twyfel uit die weg geruim: God is liefde. Hy vergewe sonde en reken dit nie toe nie. Sy genade laat ‘n lugleegte vir dankbaarheid, wat op sy beurt momentum skep vir ‘n liefde waartoe ons nie andersins in staat is nie.
Aan Jesus se tafel bestaan die kategorie van ‘sondaar’ nie meer nie – jy sal jouself eers moet verskoon om dit te gebruik – want in Sy koninkryk is ons broers en susters van dieselfde huishouding wat mekaar moet liefhê op die manier wat God dit moontlik gemaak het.
Hy vra nie ‘n toegangsfooi nie. En Hy duld nie swaardgevegte nie.
God se woord is skerper as die swaarde waarmee ons mense se sondes chirurgies probeer verwyder. Sy wysheid sny deur siel en gees en beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Dit onbloot liefdeloosheid wat agter ons wette skuil.
Enigiemand wat hom of haarself as begunstigde van genade beskou, behoort dit in gedagte hou voor hulle iemand anders se kind in twee wil laat sny.
