Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Jean van Biljon skryf:
Die beweging teen studiegelde is besig om jongmense se toekoms te verwoes. Finalejaarstudente se beroepsloopbane kan beëindig word voor dit begin het.
Sommige het reeds werksaanbiedinge ontvang en aanvaar waar hulle op 1 Januarie 2017 moet begin, nadat hulle hul finale punte ingedien het. As die universiteitsrade die res van die akademiese jaar uitstel na 2017, kan dit verreikende gevolge hê.
Op een of ander vlak raak dit almal, of jy nou ’n student is, die ouer van ’n student, die grootouer, oom of tannie, ’n broer, suster, man, vrou, verloofde, ou, meisie, selfs ’n werkgewer. Ons is nie deel van die probleem nie, maar hoe kan ons deel van die oplossing word?
Prof Piet Naudé, teoloog en tans verbonde aan die besigheidskool by die Universiteit Stellenbosch, het ’n paar jaar gelede ’n boek gepubliseer met die naam Geesgedrewe gelowiges. Daarin praat hy van hoe goed kerke geposisioneer is om noodverligting te bied – met groot, ten volle toegeruste kombuise, waarskynlik meer as wat Kentucky Fried Chicken het, kan “hierdie magtige infrastruktuur” werklik ’n groot verskil maak.
Nou kan ek nie anders as om te dink aan die ander fasiliteite wat die kerk het nie, wat ook, soos die kerkkombuis, net een dag per week gebruik word – kerke het dataprojektors, klanksisteme, kerksale met tafels en stoele …
Daarom wil ek alle kerke uitdaag om hulle missionale roeping aan te gryp en hul fasiliteite en geriewe beskikbaar te stel, sodat die akademiese jaar nog vanjaar voltooi kan word en eksamens geskryf kan word.
Ons kan nie net sit en toekyk hoe probleme in die land sneeubal nie. Daar sal moontlik baie “red tape” wees, juis daarom moet ons hande vat met alle rolspelers, maar ons doen hierdie saam met God en ons is op sy missie in hierdie wêreld.
