Die skoonheid omhels jou

Terwyl ’n mens met die bergpad afstap en ’n plaat proteas langs jou blom, lê die uitsig voor jou uitgestrek tot doer in die verte. Neels Jackson vertel van asemwegslaanoomblikke op die Pelgrimstog van Hoop.


Daar is verskeie wonderlik verrykende kante aan enige pelgrimstog.

Een daarvan is die mense wat jou pad kruis, die vriendelike vreemdelinge wat, as jy oop is daarvoor, jou reis en jou lewe geweldig kan verryk. Die mens is nie verniet die kroon van die skepping nie.

pelgrimstog-proteas-en-uitsig

Die proteas blom sommer so langs die pad op die Pel­grims­tog van Hoop.

Nog een is die geskiedenis van die landskap waardeur jy reis. Die Pelgrimstog van Hoop is so ontwerp dat dit veral die ou kerke en sendingstasies is wat vir die pelgrim stof tot nadenke bied. Die verhale van God se genade met die vorige geslagte lê daar soos helder strome water waaruit jy kan skep en drink.

En dan is daar die landskap self, die skoonheid van die omgewing, die vingerafdrukke van God wat ’n mens wil laat sing: “O Heer my God, as ek in eerbied wonder – en al u werke elke dag aanskou …”

Daarvan is daar ’n oorvloed op die Pelgrimstog van Hoop.

pelgrimstog-in-die-fynbos

’n Groepie pelgrims op ’n paadjie wat suid van Franschhoek tussen die fynbos deur kronkel.

Op pad van Pniël na Franschhoek toe, stap ons deur die veld. Met die omkyk lê die Simonsberg teen­oor ons met Pniël en ’n paar ander gemeenskappies soos enkelkrale om sy voet geryg. Dis een van daardie helder, skoon Kaapse wintersdae waarop die hemel blouer as blou is.

En ’n mens wonder: Is daar mooier berge as die Kaapse berge?

Suid van Villiersdorp stap ons oor ’n berg waar die proteas in plate teen die hange blom. Met die sit vir middagete en die mooi kyk na die blomme, sien ’n mens die verskeidenheid soorte raak: van donkerpienkes tot roomwittes met donkerpers haartjies om die rante. En tussendeur bloei ’n verskeidenheid soorte heide.

Verder aan lê die Overberg met groen velde met troppies skape daarop. Op die regte tyd van die jaar sal die canolalande geel tapyte oor die landskap uitrol.

Waar ’n mens tussen die fynbos deurstap, blits die oranjeborssuikerbekkies elke hier en daar van blom tot blom. Iewers op ’n berg kom ’n rooiborsjakkalsvoël ’n oomblik lank skuins bokant ons in die lug verby voordat hy verder op ’n lugstroom sweef. ’n Paar blou­kraanvoëls vlieg verby terwyl ons kyk hoe ’n swerm rooiassies tussen ’n klompie bosse langs die pad rondfladder.

pelgrimstog-rustyd

Frederick Marais en Peet Bester geniet die uitsig terwyl hulle ’n bietjie rus.

Die skoonheid omhels jou waar jy stap. En uiteindelik lei die Pelgrimstog van Hoop tot by die see met sy immer veranderende buie.

Natuurlik is die natuur nie net mooi nie. Dit kan gebeur dat die koue Kaapse reën ’n mens oorval. Die berge bring opdraandes wat hulle tol op die stappers se bene eis. En ook daardeur help ’n pelgrimstog ’n mens tog ook om die verskillende kante van die lewe te verstaan.

Maar die skoonheid bring ’n mens by die punt van verwondering, iets wat elke mens in sy of haar lewe nodig het. Want agter die verwondering is die Skepper van alles waaraan ’n mens jou verwonder.

En daaroor kan ’n mens, so al stappende, sing: “Hoe groot is U! Hoe groot is U!

Word 'n vriend van Kerkbode