Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Woelige kind” in die kerk

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Jasper Louw van die NG Kerk Loerie skryf:

Tydens die sinode van die NG Kerk in Oos-Kaapland het ek dié metafoor oor tydsbenutting en fokus in die kerk gebruik:

Enige onderwyser kan jou vertel van daardie een kindjie in die klas wat oor die vermoë beskik om die hele klas te ontwrig. Soms is dit ’n buitengewoon intelligente kind wat verveeld raak, of die een met aandag­afleibaarheid, of soms net die “moeilike” enetjie.

Die gevaar is dat die onderwyser al die aandag aan die “woelige kind” gee, en dat die res van die klas afgeskeep word, of dat die onderwyser die “woelige kind” probeer ignoreer om meer tyd aan die ander te gee. Beide hierdie optredes gaan moeilikheid veroorsaak. Die kuns is om voldoende aandag aan almal te gee sodat die klas sinvol aandag kan gee aan die werk wat gedoen word.

In die NG Kerk het ons ook nog altyd ’n “woelige kind” in ons midde gehad – dink maar aan “Kerk en Samelewing”, swart pak en wit das, vrou in die amp, Belhar en Artikel 1, en tans selfdegeslagverhoudings.

Ons kan maklik al ons tyd, aandag en energie op hierdie “woelige kind” fokus, dat ons al die ander “kin­ders” kan verwaarloos.

Hoewel dit belangrike sake is, sal ons as kerk op­nuut op ons identiteit as liggaam van Jesus Christus moet fokus, omdat ons sy getuies is. En as ons sy ge­tuies is, dan is dit onder leiding van die Heilige Gees, en onder leiding van sy Gees, sal ons die vrug van die Gees ook uitleef, naamlik liefde, vreugde, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Ons sal steeds moet veg teen die “praktyke van die sondige natuur” wat insluit, rusies, verdeeldheid, skeuring en dergelike dinge.

Kom ons herontdek ons identiteit en bly as kerk God se vertoonvenster vir ’n soekende wêreld.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top