Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Pieter Dorey van Kampersrus skryf:
In die pastorale brief na die pas afgelope BAS (Buitengewone Algemene Sinode) word geskryf dat die Algemene Sinode na ‘n lang gesprek besluit het dat “die Bybelse boodskap ken net die huwelik as uitdrukking van menslike seksualiteit”.
Wat onverstaanbaar is, is dat ons na baie gesprekke nie kan besef dat die Bybel ook nie die staatregtelike huwelik ken wat tans as die enigste aanvaarbare huwelik deur die kerk erken word nie. Die huidige standpunt stel die staatregtelike huwelik gelyk aan ’n Bybelse huwelik. En dit is gewoon nie ’n Bybelse opdrag dat die staat bepaal of ’n huwelik plaasgevind het of nie.
Daar is natuurlik goeie redes en dis verantwoordelik om verkieslik die staatsregtelike te doen, maar dit kan tog mos nie waar wees dat slegs ‘n staatsregtelike huwelik uitdrukking kan gee aan die menslike seksualiteit nie.
Tans erken die kerk en die meeste mense slegs die staatregtelike huwelik wat in ‘n huweliksregister aangeteken word as ‘n heilige nie-sondige verhouding waarbinne menslike seksualiteit tot uitdrukking mag kom. Die staat het geen saak met die geloofs- en religieuse sy van die huweliksluiting nie.
As jy mooi dink, sal jy moet insien dat die kerk eintlik meer waarde aan die regtelike ooreenkoms tussen ’n man en vrou heg as die belofte voor God.
Die kerk erken ‘n staatregtelike verbintenis voor ‘n landdros, en seks na so ‘n verbintenis oor middagete sonder ‘n kerklike seremonie is skielik nie meer sonde nie. Daarmee gee ons aan die staat beheer oor seks en bepaal die staat wanneer die uitlewing van seksualiteit sonde is al dan nie.
Die siening van die kerk oor die huwelik en seksualiteit kort dringende aandag.
