Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Johan Olivier van Magaliesburg skryf:
Byvoorbaat my verskoning vir die feit dat ek ooit die brief moet skryf en mens en dier so in een asem moet noem. Moontlik kan dit lig bring vir iemand.
As iemand wat nougeset in die landbou betrokke is, het ek menige verwysings hanteer van die effek van diere wat as manlik of vroulik die teenoorgestelde gedrag toon. Dit kan geneties wees of bloot wanbalanse in vrugwater wat die fetus se geslag-gedrag kan verander – dit is hoe dit is.
Dit is hiervoor dat ek my solank weerhou het, want dit is met huiwering dat ek die kompleksiteit van gaywees by mense in spel moet bring by die dierewêreld waar boere dit so goed sal verstaan. My apologie in my diepste vorm aan gay mense byvoorbaat.
Dit is so duidelik wanneer ’n kweer (queer) koei deur die kudde uitgestoot word omdat sy anders is en glad nie in ‘n bul belangstel nie. Die koei het nie gedink om haarself sosiaal te verander om die gedragspatroon van die bul te openbaar nie. Sy word deur die kudde uitgestoot want sy gaan nie binne die hiërargie van die kudde ‘n plek kry nie. Sy sal tipies eenkant staan – uitgestoot. Is die koei minder in haar wese? Is sy onvolkome geskep in terme van God se skepping?
Waarom sal die boer dan met geduld die koei in sy onkunde kans gee om vir hom kallers voort te bring, maar kan hy die gay seun aan sy tafel van sy plaas wegjaag en onterf?
Ek moes my buurman in die oë gaan kyk nadat sy gay seun in ‘n ander motor vasgejaag het om selfdood te pleeg, want hy kan nie sy plek in die samelewing kry nie en hy het nie tuis gehoort in ons gemeenskap nie. Hy het homself in die eensaamheid van sy kamer later gedood.
Ek wil aan elke gay mens, Christen of nie-Christen, sê: Ek is lief vir jou. Die Here het jou wonderlik gemaak net soos jy is. Ek sal waaragtig nie die doelpale op jou menswees skuif nie. Kom sit hier op my plaas, jy is welkom in my kudde net soos jy is.
Ek sê dit nie omdat ek ‘n humanis is nie. Ek sê dit want die Here se hart sê vir my dit is hoe dit moet wees. Dis hoe ek Hom leer ken het.
