Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Annalise mág maar sing … en skryf

MET LIEFDE WAT SAAMGAAN EN ANDER STORIES
Deur Annalise Wiid
Uitgegee deur Lux Verbi, 2016
Resensie deur Frits Gaum


Annalise Wiid is van woorde en wysies aanmekaar gesit. Sy is ’n luisterliedjie-kuns­te­naar in die tradisie van Koos du Plessis en Laurika Rauch. Wat wil sê: Woorde maak vir haar saak (anders as by sommige ander liedjieskrywers van wie ek weet …). Wysies is belangrik, maar woorde dalk selfs belangriker. Sy kies haar woorde sekuur, sy mors nie met hulle nie. So ook in hierdie 54 stories. Elke woord tel – en help om ’n prentjie te voorskyn te bring. Luister hierna:

“Drie vroue sit om ’n tafel. Die blonde een se serp is dieselfde middernagblou as haar oë. Die tweede een se hare is ook blond, maar haar oë is bruin en bekommerd. Die derde een is maar net daar. Sy is die middelmens; die een wat die ander twee bymekaargebring het.

met-liede-wat-saamgaan“Hulle drink tee. Buite val die reën aanhoudend, soos kaasdoeksluiers lyk dit deur die venster. Hulle drink rooibos. Sterk. Stomend. Die koppies is fyn en wit. Drie vroue sit vooroor gebuig om die houttafel. Hulle hande vou die koppies toe, soos kombersies om babas. Hulle praat oor hulle lewe.” (“Drie vroue drink tee”, bl 50.)

Sien jy die prentjie? En hoor jy die drietal se stemme as hulle oor “hulle lewe” praat?

Dit is waaroor Annalise se boek gaan: woordtekeninge oor mense se lewe; momentopnames wat jou nuut en anders na mense laat kyk, ook na jouself. Dis nie preke nie; allermins. Maar Annalise se ge­loof is wel die basis van haar skryfwerk en ’n mens kan nie hierdie boek (’n wonderlike Kers­ge­skenk vir iemand na aan jou hart) lees sonder om ook daarvan bewus te word nie.

Annalise Wiid mag maar sing. En sy mag maar skryf.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top