Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Nee vir ’n koppie tee …

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Adriaan van der Wart skryf:

Daar is hardnekkige gerugte in die kerklike omgewing dat talle lidmate die afgelope paar jaar uit gemeentes wegsyfer soos wat water in die sand wegsak oor ’n verskeidenheid van redes. 

Dis ‘n saak van kommer vir diegene wat enigsins nog kerklik-gebonde voel of dink.

Nie al hierdie lidmate gaan weg na ʼn ander kerk, geloofsgemeenskap of as gevolg van die ontvolking binne gemeentegrense nie. Party gaan eenvoudig net huis toe, omdat hulle “vreemdelinge” geword het in die kerk as gevolg van onbegrypbare optrede en uitsprake van kerkleiers. Dié persone word kerk-los en dalk kerk-loos maar nie noodwendig God-loos nie.

Daar is baie oor die afgelope Buitengewone Algemene Sinode se besluite geskryf en gepraat deur mense binne en buite die kerk. 

Een van die “optredes” wat minder aandag gekry het tot dusver, is die hantering van galery-besoekers aan die sinode. Dis nou diegene wat ’n koppie tee of koffie en selfs later net warm water geweier is, toe hulle hul eie koffie wou maak tydens pouses. Hulle is by die tafels deur die tee-tannies verjaag. 

Dié skokkende ongasvryheid rym met die gebeure en denke van talle persone wat die sinode bygewoon het. (Gelukkig was daar darem ook sinodegangers wat ontstig was oor hierdie optrede en die hantering van gaste.)

Die gebeure by die tee- en koffietafels val binne die raamwerk van “kerklike deernis” oor hoe daar deur sommige kerkleiers omgegaan word met Bybelteks-koeëls  om gay lidmate in die NG Kerk, geestelik te dood.

Die gebeure herinner my aan wat met die groot en magtige Gereformeerde “moeder” van die NG Kerk in Europa gebeur het. Sy het hardnekkig vasgeklou aan kerklike leer- en hermeneutiese tradisies en baie daarvan verhef tot evangeliese waarhede. In die proses het sy nie werklik insig getoon in die veranderinge wat om haar plaasgevind het nie: dinge wat op straat en by die markplein aan die gebeur was met lidmate. Daar het ʼn jarige doofheid by haar ingetree oor die diepgaande vrae van lidmate oor dogmatiese leerstellings en die kerklike manier van Bybelinterpretasie. Die ouer wordende kerk het nie opgemerk dat gemeentes al leër word nie. Totdat sy op ʼn dag skielik ontdek het dat baie van hulle slegs gegrendelde katedraal-besienswaardighede is.

Die “moeder” was te besig met dit wat sy as eksklusiewe waarheid vanuit haar historiese Bybeluitleg, belydenisse en tradisie beskou het. Sy het nie tyd gehad om aandag te gee aan die vraag of haar antwoorde relevant was en nog as ʼn lig en lamp op die veranderende lewenspad van haar lidmate skyn nie.

As die Buitengewone Sinode sekere mense verbied het by die tee- en koffietafels soos wat pas gebeur het, het daar ’n Kairos-moment aangebreek. Hulle is verbied omdat van hulle gay was. Ek glo dat baie van hulle nou net “huis toe” sal gaan en deel word van die water wat wegsyfer in die sand omdat hulle so lank en innig met hulle “moeder” in gesprek wou tree oor hulle menswees en tog weer verwerp is. Weer in liefde natuurlik …

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top