Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Marius Joubert van Robertson skryf:
Prof JC Steyn (“Die kerk se bloedspoor”, Kerkbode, 2 Desember) skryf dat hy gril vir verskillende sake. Ek gril ook vanmôre en ek kan dit nie meer uithou nie. Waarvoor gril ek?
- Vir die liberale rigting wat ons teologiese opleiding inslaan. Geen wonder dat daar so min studente is wat teologie wil studeer nie. Natuurlik sal hulle wil argumenteer om te sê dis die “liefdeloosheid van die fundamentaliste wat nie ruimte laat vir ander mense soos gays nie”. Ek gril nie alleen nie, maar is ook tot oorlopens toe siek om te hoor ons gee nie om vir hulle nie. Daar is baie dominees wat geen vrymoedigheid het om studente na die NG Kerk se inrigtings te stuur vir opleiding nie.
- Ek gril as ek dit beleef hoe daar in 2016 in ons kerk met die Woord omgegaan word. Ons word ‘n “mens-verering”-kerk ten koste van die Woord en sogenaamde liefde. En as jy van die “populêre mening” verskil, dan is jy óf ’n ou verstokte omie óf ’n fundamentalis.
- Ek gril as ek sien hoe die Kerkbode van 2 Desember ons soos die regering probeer oorrompel met al die pro-artikels teen die Algemene Sinode se besluit van 2016. En as ‘n gemeente soos Moreleta hulle mening van tevredenheid uitspreek oor hoe hulle voel die Woord het getriomfeer – dan word hulle geloop en sommer op onkerklike wyses – ek gril!
- Ek gril as ek sien hoe ons skrywer met geskiedenis omgaan – hoop nie dis sy vakgebied nie? Natuurlik was daar nog altyd bloedspore op die kerk se hande. Ons hele reddingsgeskiedenis “begin” met die bloedspoor van die kerk (skrifgeleerdes en fariseërs) as hulle Christus kruisig. Daarna het kerkvaders gevolg wat op brandstapels gesterf het vir die Woord en hulle geloof. Ds Dirkie se bloed is ook op die sole van baie mense – maar hiervoor gril ek nie, maar eer die Here vir mense wat in 2016 opstaan soos Martin Luther vir wat hulle glo die waarheid is. Die kerk is in die verlede al dikwels gered van liberale teologie en kom ons sê dit dan maar deur sogenaamde “fundamentaliste”. Daar is legio voorbeelde van Puriteine.
- Ek gril as ek dink hoe die geleerdes van ons kerk in 2016 ons kerk weer Rooms wil maak. Normale mense as gelowiges en selfs dominees is nie meer in staat om “regtig” te verstaan wat die Bybel en die Here sê nie. Ons moet vir hermeneutiese kursusse gaan en professore kry om ons te laat verstaan hoe die Bybel nou eintlik verstaan moet word. Ek wonder in watter mate glo ons regtig 1 Johannes 2:27?
- Miskien moet prof Steyn besef dat hyself nie met oop hande sit wat wil ontvang nie, maar self handskoene aangetrek het en sonder dat hy dit besef, besig is om mense wat ook reg het om hulle opinie te gee, te slaan.
Ek stem saam – kom ons soek in die seisoen Jesus, maar ons soek Hom in die suiwere Woord van God en nie in die aanvaarding van mense en hulle opinies nie.
Geborg
