Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Oproep tot kerkverdeling

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Marcel Vosloo van die Strand skryf:

Die NG Kerk wil op twee stoele sit met die besluit oor selfdegeslagverhoudinge. Die groep ten gunste van sulke verhoudinge sê duidelik dat hulle nie sal rus voordat hul standpunt die standpunt van die Al­ge­me­ne Sinode word nie. Diegene wat die Skrif inter­pre­teer dat die Here die beoefening van homo­sek­suele ver­hou­dinge verbied, staan onwrikbaar by hul oortui­ging. Die feitelike van die saak is dat ons in ’n skaakmatsituasie verkeer.

Die akkommoderende model van die ruimhuisbe­na­dering werk vir niemand nie. Hoe sal ons die saak nou verder hanteer? Siende dat ons hier met twee onversoenbare standpunte te make het, blyk dit dat daar net een sinvolle uitweg is: Ons moet die wiele aan die rol sit om sinvolle kerkverdeling te ondersoek.

’n Moontlike werkswyse is om twee werkgroepe in die kerk saam te stel wat die onderskeie eksegetiese mo­delle oor homoseksualiteit aan lidmate kan voorlê. Lid­mate kan dan aan die hand van so ’n inligtingstuk ’n ingeligte besluit neem of hulle na NG Kerk A of NG Kerk B wil gaan.

Hier waar ek in die Helderbergkom predikant is en daar sewe NG gemeentes is, kan so ’n verdeling eintlik baie maklik geskied. Daar kan byvoorbeeld drie ge­meen­tes wees met ’n A-standpunt en vier gemeentes met ’n B-standpunt. Dit sal uiteraard baie moeiliker wees by kleiner plekke. Daar sal heel moontlik predi­kan­te in die platteland wees wat nou twee of meer preekpunte het.

Die proses kan verder ondersteun word deur ’n werks­groep aan te stel wat denominasies wêreldwyd ondersoek wat reeds hierdie pad van skeiding geloop het.

Ja, dit is radikale sake, maar dis vir almal onontbeerlik om getrou te bly aan hul gewete. Dit is ook geen geheim nie dat die verskillende benaderinge tot Skrif­interpretasie wat nou na vore kom, ook baie ander uitkomste het buiten die verskilpunt rondom die beoefening van homoseksualiteit.

– Voorstanders van selfdegeslagverhoudinge het by die Algemene Sinode nie gepleit dat hulle standpunt alleen moet geld nie, maar vir ruimte in die kerk vir verskillende standpunte, soos wat die 2015-besluite ook ruimte vir verskillende standpunte gelaat het. – Redakteur

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top