Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die gay-vraagstuk: Hoekom sukkel die kerk?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Mike Müller (emeritus, PE) skryf:

Die kerk worstel wêreldwyd met selfdegeslagverhoudinge, want die gay-situasie is ‘n teer en seer saak.

Baie gays is ook pragtige en aangename mense en daarom wil die kerk hulle graag met begrip en liefde sodanig begelei dat hulle ‘n unieke probleem reg kan hanteer.

Talle kerke het hiermee misluk, lidmate verwar en soekende gays onseker gelaat. Enkele redes hiervoor is reeds geïdentifiseer en word slegs hier genoem.

Buite die kerk oorheers die valse erkenning van menseregte. Daarvolgens het elke mens die reg om te dink en te doen soos hy wil en daarom is alle soorte gay wanpraktyke aanvaarbaar, ongeag die pynlike gevolge wat dit vir hulle, hul verhoudinge en hulle gemeenskappe skep.

Gays mag ook lewe net soos hulle wil, want dit is óf hulle keuse óf hulle is die produk van hulle gene en/of vernietigende agtergrond. Enige afwysing of weerstand (Goddelik óf kerklik) is slégs die beperking van hul vryheid, inmenging in hul privaat sake en uitgediende insigte.

Die tydsgees aanvaar dus gays se leefwyses (selibaat óf vrysinnig) terwyl die kerk se mond gesnoer is.    

Binne die kerk het die kerk vir homself ses probleme geskep.

  1. Uiteenlopende kerkbesluite. Orals is ernstig na die wil van God gevra, maar sommige kerke het dit misken, die gays se leefwyses gesanksioneer en toegewings (huwelike, ampte, ens) gemaak. Alles is as ‘n liefdesdaad teenoor en respek vir die gays getipeer. Talle ander kerke het die gays as ‘n persoon aanvaar, maar geweier om menslike onheilighede te erken en God se heiligheid te misken. Daarom het hulle op ‘n selibaat lewe gestaan en so vermy dat gays se besluitneming daaroor bemoeilik word.
  2. Toegeeflike bybeluitlegte. Hermeneutiese gebruike is misbruik om die eksegese aan te pas sodat geen gay vervreem sal word nie. Daarmee is die Bybel na eie voorkeure interpreteer óf ignoreer, die karakter van die kerk aangetas en die geleentheid om mense se lewens te vernuwe verbeur. God se wil, die geloofwaardigheid van die Kerk en die regte leiding aan die gays het daarmee gesink. Die terugkeer van die kerk na die Bybel en die belydenisskrifte (Van Wyk, Gravamen, NG Kerk, 2016) het dus dikwels op dowe ore geval.
  3. Vermy van God se oordele. Vir sommige kerke is oordele slégs liefdelose veroordeling van die gays. Vir ander is God se oordele ‘n liefdevolle vermaning dat die Here nie met Sy voorskrifte laat mors nie en dat God se uithou ‘n einde gaan kry. Vir God gaan dit egter altyd om die wen en behoud van siele en daarom word kerklike mislukking met die verkondig daarvan van die hand van die kerk geëis (Eseg 3:18, 33:8-9). Sommige kerke het die waarskuwing duidelik vergeet.
  4. Onderskat van lidmate reaksies. Lidmate lees in hulle Bybels dat God homoseksualiteit orals ten sterkste afkeur. Hulle weet ook dat brassery onder andere saam met gayverhoudings verwerp word (I Kor 6:9-11) en dat geen kerk ‘n gefuifery sal aanvaar nie. Toegewings met homoseksualitiet is dus vreemd, ondermyn die kerk se erns oor die heilige lewe en ontwrig hulle eie strewes daarna. Die hewige afwysings van sommige kerke se toegewings aan en besluite oor die gays is die bewys daarvan.
  5. Simpatie vir gays in eie geledere. Die lojalitiet teenoor bekende gays is goed, maar dit bring dikwels die miskenning van God se korrekte verhouding (man en vrou) en die vernietiging van eerbied vir en gehoorsaamheid aan God mee. Dit bied ook géén oplossing vir die gays se pynlike leefwyses nie, want dit beskerm in plaas van vermaan.
  6. Verwaarloos van die pastoraat. Kerke maak daarop staat dat hulle besluite genoeg is om mense te begelei. Dit kan, maar slegs ‘n liefdevolle pastoraat kan ouers van gay kinders ondersteun om hulle met liefde en simpatie te aanvaar en hulle tot ‘n selibaat lewe te begelei. So ‘n lewe is nie maklik nie, want dit verg selfbeheersing deur die gays en die voordurende ondersteuning deur die ouers van ‘n familielid wat dikwels deur skelname, wanbegrippe en gevoellose afwysings verneder word. ‘n Pastoraat van ware omgee voorkom ook kerklike twisgesprekke, gekookte voorleggings en regverdigings van ongegronde kerklike voorkeure wat géén kerk, lidmaat, of gay verdien nie.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top