GOD DIE GROOT DIGTER
Deur Cas Vos
Uitgegee deur Cordis Trust-publikasies, 2016
Resensie deur Stephan Joubert
Ek het ’n arsenaal vol teologiese boeke. Maar hulle val soms vas in taal waarvoor daar nie eens woordeboeke bestaan nie. Boonop neem baie van hierdie boeke nooit enige noemenswaardige geloofsposisie in nie. Ek lei af dis nie “polities korrek” vir party vername teoloë om iewers ’n stukkie teologiese vastigheid te bied nie. Dit het my teologies-
gestremd gelaat. Ek wil asseblief tog net nie nog een teologiese “post mortem” op die Bybel lees nie.
Toe beland God die groot digter in my hand. Hierdie boek het al die teologiese diepte van die teologiese literatuur op my rak, en soveel meer. Maar dit bruis van kinderlike opgewondenheid oor die Psalms. Dit is deurdrenk met jare se geïnternaliseerde nadenke, geloofsworstelinge en ’n ruim rus aan God se voete. As alle teologiese boeke maar so geskryf kon wees, dan het teologie regtig op die markplein van die lewe geleef.
In Vos se poëties-nadenkende reis deur die Psalms, verklank hy die verskillende geloofsroetes wat hierdie skrywer-digters bewandel het. Maak geen fout nie, in hierdie boek word jy bedien met die beste en nuutste kennis oor enigiets vanaf die teologiese funksie, genre, agtergrond en inhoude van die Psalms, maar sonder dat dit jou ooit intellektueel intimideer. Jy leer byvoorbeeld in beeldryke taal om metafore nuut te bedink as vonkpos en as landskap-uitbeeldende en verbeeldende taal sodat jy die Psalms as geloofspoësie vars kan verstaan.
Ook onthou jy in die “goue oues” soos Psalm 23 of Psalm 139 (hoofstuk 7) hoe God binne sy poreuse werklikheid op verrassende maniere by brose mense aanwesig is. Tussendeur word jy sprakeloos gelaat deur ’n nuutontdekte skoonheid van daardie tweeling-psalms – Psalm 111 en 112 (hoofstuk 16). Op reis saam met Psalm 120-134 se pelgrimstogte (hoofstuk 9), leer jy hoe om dit relevant agterna te sing.
Te midde van al die seer en onreg rondom jou, begelei Cas se besoek aan verskillende klaagpsalms jou tot ’n vars verstaan van God se geregtigheid wat geen vrede het met chaos en verdrukking nie (hoofstuk 15). Die diepste wese van menswees word oopgeruk, maar ook met Goddelike vertroosting omvou, wanneer jy jou weer in Psalm 14 begeef. Te midde van eietydse bloedspore, vanaf Aleppo tot in Parys, en jou eie innerlike stryde saam met Psalm 88 oor die moontlike afwesigheid van God (hoofstuk 12), dwing die relevante geloofsvertroue van hierdie tydlose Psalms jou koers nogmaals Godwaarts.
Cas Vos gee eietydse lewe aan God se Psalm-taal. Te midde van diepgaande insigte oor die Psalms, omraam hy dit meesterlik met sy eie digterlike vermoëns. Die eindresultaat is ’n teologiese kunswerk. Pak dadelik jou ander boeke weg en ontdek die diepte en skoonheid van God in die Psalms saam met hierdie meesleurende boek.
▶ Prof Stephan Joubert is buitengewone professor in eietydse ekklesiologie, Universiteit van die Vrystaat.
* Bestel die boek by cas.vos@vodamail.co.za (Prys: R200 plus posgeld).
