Die NG Kerk in Wes-Kaapland het verlede jaar begin met ’n internskap vir jong predikante wat tot die bediening toetree. JACOBIE M HELENA bied ’n blik op die doel en funksionering daarvan.
Dit gaan nie oor ’n gemeente nie. Dié program gaan oor die student.” Só maak ds Gielie Loubser, Predikant in Sinodale Diens (PSD) vir Gemeentebegeleiding, dit duidelik wanneer hy oor die Wes-Kaapland sinode se internskapprogram praat.
Dié twee-jaar internskap-program is in 2016 in werking gestel om proponente wat onder leiding van Stellenbosch Kuratorium gelegitimeer word, toepaslike werkservaring te gee.
Dr Frederick Marais, skriba van Stellenbosch se Kuratorium en PSD vir Kerklike Opleiding, sê die internskap-proses het hoofsaaklik om twee redes begin. “Eerstens het navorsing wat Communitas en die Kuratorium gedoen het gewys dat wanneer daar jonger leraars in ’n gemeente beroep word, daar gewoonlik missionale groei plaasvind. Daardie gemeentes se lidmaatprofiel verjong en blyk meer gereed te wees om missionale risiko’s te neem. Tweedens het die Kuratorium uit ander navorsing vasgestel dat een van die groot redes waarom mense huiwer om teologie te studeer is dat hulle onseker is of hulle na hulle studies in die bediening opgeneem sal word.”
Gielie brei uit: “Daar is ’n taakspan saamgestel om moontlikhede te bespreek en die internskappe het daardeur tot stand gekom. Dié program gee die afgestudeerde student vinniger predikantstatus, wat pensioen- en mediese fonds insluit, en ook die geleentheid om bedieningservaring te bekom.
“Ons doen ook passings tussen gemeentes wat in só ’n proses belangstel, en studente wat vir ’n internskap aansoek doen. Dit is ’n siftingsproses waar die konteks en sterkpunte van beide die gemeente en student in oorweging gebring word. Die internskappe verloop dan verder soos ’n beroepingsproses. Die afsnypunt vir die internskappe is elke jaar einde Oktober.
“Die passing, wat deur ’n spesiale taakspan behartig word, vind daarna plaas. Wanneer ’n student deur middel van die internskappe beroep word, betaal die gemeente slegs ’n derde en die Kuratorium twee-derdes van die nuwe predikant se salaris. Die nuwe predikante ontvang verder ’n mentorkollega wat saam met hulle die pad van die bediening betree,” vertel Gielie.
Die hoofdoel van die internskap is om proponente ’n voet in die deur tot die bediening te gee. Frederick vertel dat die sogenaamde boomer-generasie van predikante moeilik die stokkie na nuwe jong predikante toe oorgee. Die ouer predikante is geneig om té laat terug te staan en die jong predikante in te laat.
“Die internskapprogram se droom is om proponente so gou as moontlik na die voltooiing van hulle studies in gemeentes in diens te stel. Gemeentes het die passie en vaardighede van hierdie jong leraars nodig en proponente het bedieningservaring nodig, sê Frederick.
Volgens Gielie is daar in 2016 reeds vier predikante deur die internskapproses bevestig en word daar sover in 2017 nóg vier bevestig.
Di Stephan Naudé, predikant in NG Kerk Riviersonderend, en Konette Louw, predikant in Vredenburg-Akkerdyk gemeente, is albei in 2016 deur middel van die internskapprogram as predikante bevestig.
Stephan beskryf die internskapprogram as ’n besonderse geleentheid waar hy binne ’n veilige omgewing sy eie roeping kan uitleef.
Konette beaam: “Dit gee vir my die kans om missionale projekte, wat in die laaste paar jaar nie baie aandag geniet het nie, te ontwikkel. Dis ’n lekker uitdaging om my kennis so vars uit die kweekskool in die praktyk toe te pas. Ek kry die geleentheid om met my passies soos sending na die Transkei, die oprig van groentetuine en om eenheid in gemeenskappe te bevorder kreatief toe te pas.”
Stephan vertel oor die mentorskapsvereiste: “Ek het gou besef ’n mens kan nie alles van dag een af reg doen nie. Daarom vind ek baie waarde in my kollegaskap met ds Kobus Pretorius. Sy ervaring van mense en die kerk gee nuwe dimensie tot my teologiese opleiding.”
Konette stem saam oor haar mentor ds Willie Greeff: “’n Mentor-kollega is seker een van die beste dinge wat met enige jong dominee kan gebeur. My mentor gee nie net vir my insig tot die geskiedenis en kultuur van die gemeente nie, maar hy is óók my grootste ondersteuner. Hy lei my baie in die wese van ’n dominee en is nie skaam om vir my te vertel waar hy dink hy het foute gemaak, sodat ek daaruit kan leer nie. Hy daag my uit om take aan te pak wat ek nie normaalweg sou nie.”
“Ek is opreg dankbaar vir die internskapprogram,” sê Stephan. “Behalwe die bedieningservaring wat ek kan opdoen, is dit vir my ’n voorreg om ’n werk te hê en die finansiële sekuriteit te geniet wat die internskapprogram bied.
Predikantwees is beslis nié maanskyn en rose nie. Die uitdagings van die gemeenskap en realiteit van die wêreld se gebrokenheid klop gou aan ’n mens se deur, maar watter voorreg om dáágliks te beleef hoe die evangelie gebrokenheid en pyn in ewige Goddelike hoop en liefde transformeer, sê Stephan.
