Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Waarom is Jesus se lyding belangrik?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Vir Jesus was Lydenstyd nie ’n seisoen van die kerkjaar nie. Geweld, armoede, siekte en kon­flik was ’n daaglikse werklikheid vir Hom.

Dit is egter opvallend dat spesifiek Jesus se lyding vir sowel Petrus, die segsman van die dissipels, as die Satan ’n probleem was. So wou beide in die Matteus­evangelie keer dat Jesus ly. Hulle wou Hom in watte toedraai.

Met Jesus se versoeking deur die Satan in Matteus 4:1-11 is die Versoeker oënskynlik besorg oor Jesus se honger, veiligheid en vernederende status. Daarom stel hy voor dat engele vir Jesus moes voed en versorg ter­wyl hy aan Hom ’n ereposisie sou waarborg. Laas­ge­noemde sou bekom kon word sonder lyding indien Jesus vir hom sou aanbid.

Wanneer Jesus later in Matteus 16:21-28 aan sy dissipels sy lydensweg bekend maak is dit Petrus se beurt om Jesus daarvan te wil weerhou. Die voormalige visserman word egter summier deur Jesus met die Satan gelykgestel, en beveel om uit sy pad te kom. Wie Jesus van sy lydenspad wil weerhou tree immers soos die Satan op en neem nie God se wil in ag nie.

Dié klem op die lyding van Jesus bring die vraag na vore waarom Jesus se lyding só belangrik was. Waarom moes Jesus ly?

Hiervoor kan daar verskeie redes aangevoer word. Een is dat God in sy Seun wat mens geword het as ’t ware die taal van lyding kom aanleer het. As onsterflike God het Hy in Jesus eerstehands beleef wat dit is om te ly en te sterf. Hoe anders kan ’n onsterflike God verstaan wat dit is om sterflik en in pyn te wees?

Danksy die lydingsweg van Jesus kan God ons klaag­gebede oor honger, vrees, pyn en die dood verstaan. Jesus kan as parakleet vir ons intree (1 Joh 2:1).

Die Satan wou egter nie net keer dat God ons kan verstaan nie. Hy wou Jesus in watte toedraai om te verhinder dat Hy as die Lydende Kneg ons ellendes op Hom sou neem (Matt 8:16-17).

Jesus se lydensweg is daarom nie net ’n getuienis dat God ons lyding verstaan nie. Dit getuig ook daar­van dat Hy ons daarvan wil verlos. Dit is daarom beide – God se verstaan en verlossing van ons – wat ons op­nuut in Lydenstyd moet bedink.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top