Sinvolle teologie in splinters en skerwe

Professor. Buitengewoon. Emeritus. Dekaan. Kunstenaar. Breedgeskouerd. Saggeaard. ANNALISE WIID het die veelsydige Daniël Louw in Stellenbosch se kweekskool-kapel ontmoet – omring van sy kunswerke.


Regs hang Daniël se Opstanding-skildery: Chris­tus beur op uit ontstellende koerantberig-skeur­sels oor die geweld van mens teen mens; breek die stukkend stúkkend. Aan ’n ander muur hang ’n klip-Jesus; in die aardse kleure van die Ceres-Karoo. Bossiebruin, stofvaal, bloedwarmroes, klipkoue-ystergrys. Dit is verstommend dat iets só hard, só seer, dit so sag kan maak binne-in ’n mens!

Daniël het self die klip gaan loskap in die Warmbokkeveld. Dit met ’n bakkie aangery Stellenbosch toe. Aanvanklik wou hy daarmee net ’n kruis bou. Maar met die aflaai, val die stukke klip só, dat die ge­krui­sigde Jesus daarin lê: Gebroke, broos en eindeloos liefdevol.

“Dit ruk my,” het ’n kollega gesê, en die klip is so vasgemessel teen die fokusmuur van die klein kapel. Die messelaar het dit met spykers en draad geanker. Hy wou dit later weer verwyder. Nee, het Daniël gekeer, dit pas, dit móét daar wees. En eerder nog do­ringdraad bygevoeg: “As simbool van die vyandskap, venyn, verwydering tussen mense. In oorloë, konsen­tra­siekampe, tussen die treinspoor en die lokasie – gaan kyk maar – oral het doringdraad mense afge­kamp, ingeperk, verneder. Christus trek ons skerwe in homself bymekaar.”

Kuns-vonk vat vroeg vlam

Daniël onthou hoe lekker “Sub A” se skryf en teken vir hom was. Van vóór skool af al het hy daarvan gehou om goedjies te maak; om speel-speel te bou. Toe sy kuns-juffrou in standerd 1 personeelkamer toe hardloop om met een van sy kunswerke by haar kollegas te spog, het die kuns-vonk in hom waarlik vlamgevat. Haar opwinding het hom laat verstaan: Ek het ’n aanvoeling; ek kan iets waardevols skep. Sy het vir hom haar olieverf gebring. Gevra: Skilder vir my iets. Hy het nou nog die skildery met die pot en rooi Poinsettias.

Deur sy skooljare het hy aanhou teken. Maar in later jare was daar nie tyd nie. “Teen 1983 het ek egter besef: Ek gaan dood! Hier is iets binne my wat eenvoudig moet omgeskakel word tot kuns. Nou vind ek: Ek moet jaarliks iets doen, anders ontwikkel ek nie.”

As kunstenaar soek ’n mens na hoe jy jouself kan uitdruk. Toe die kapel by die kweekskool gebou is, het Daniël met glas begin eksperimenteer. Finansies was te skraps vir loodglas. Toe beskilder hy die gewone vensters.

Eendag sien hy op Gansbaai ’n stuk glas – een van daardie dubbel-glaspanele – wat stukkend geslaan is tydens ’n inbraak. “Jy weet mos, dit breek nie, dis so ge-brittle – en dit maak die mooiste patrone!” Hy vra of hy dit mag kry. En besef: Die man wat dit vir hom gee sien glad nie die skoonheid daarin nie. Hy sien net weggooigoed.

Daniël skilder toe ’n agtergrond met sagte bloue en plak die gebroke glas daarop. Hy noem dit: Ek sien ’n nuwe hemel kom. “Dít is kuns,” sê hy: “Om te sien wat onsigbaar is; en dit vir ander sigbaar te maak. Die kunstenaar bring na vore wat ander mense nie sien, hoor of verstaan nie. Dít is die verskil tussen prentjies en kuns. Kunstenaars help mense om betekenisvol oor die aard van dinge, gebeure te kan gesels.”

Op ’n dag, toe hy weer so ’n dubbel-glaspaneel gaan koop, vra hy sommer daar by die winkel vir die verkoopsman: “Het jy ’n lekker groot hamer? Ek wil die glas stukkend kap.” Die man se reaksie was: “Is djy mal in djou kop? Allie anne mense soek heel glas. Hulle moan assitie perfek issie. Djy’s my eerste customer wat geld betaal vir ’n heel ding en dit dan wil opsmash.”

Daniël werk nou gereeld met splinter-glas. “Glas gee die gevoel van son. Dit breek en kaats die lig so mooi – op soveel fassinerende maniere. Jy het net die regte agtergrond en genoeg verbeelding nodig om iets wonderlik daaruit te skep.”

Gebrokenheid gebruik hy ook gereeld. Dis meer as net ’n woord. Dit is ’n manier van wees. Dit is die medium waarmee hy werk; ongeag of hy besig is met glas, klip of verf. Om skoonheid te skep uit stukke en skerwe, is vir hom ook die kuns van die lewe. ’n Vrou vra eendag, na aanleiding van een van sy kunswerke, of die man baie aggressie in hom het, dat hy die glas so stukkend kap? Sy het nie verstaan nie. Inteendeel. Hy dra baie heling in hom. En deernis. Barm­hartigheid.

In ’n Japanse tuin

Gebrokenheid en volkomenheid lê langs mekaar. Dít het Daniël in ’n Japannese tuin besef: Hy het een oggend, in Kioto, nuus ont­vang dat hulle sesde kleinkind, waarmee sy skoondogter toe al ’n paar maande swanger was, aan Edward-sindroom ly; wat misvor­ming meebring. In die middel van die tuin was 15 rotse gepak (die getal van volkome geluk en vrede in Japannese lewensfilosofie) – maar vanaf enige hoek kon ’n mens slegs 14 van hulle op enige ge­gewe oomblik sien (die getal van gebrokenheid en pyn).

Daniël se glaskuns weerkaats in die gang buite die kapel. Daniël Louw vind dat “kuns ons kan help om die bewoënheid van God te ontdek”. Foto’s: Annalise Wiid

“Ons sien 15 ook nooit in die lewe nie. As jy nie kan aanvaar dat lyding, weerloosheid, gebrokenheid, deel is van die werklikheid van hierdie lewe nie, dan is jy altyd ongelukkig. Jy moet die estetika in gebrokenheid vind. En este­tika het weinig te doen met mooi of lelik. Dit het te doen met waarde oopbreek. Ons sesde klein­kind het, saam met die gebro­kenheid, ook die vrede van 15 gebring.”

Dit was ’n stilgeboorte. Daniël het hom vasgehou; hom gedoop; hom oorgeplaas in die passie en omgee van God. “Want dit is hoe God vir my is: By my tot in die dood. En dit is hoekom Goeie Vrydag goed is: God is lelik, weerloos: Verlatenheid wat in verlatenheid roep. Gestroop. En getrou. Die aakligheid van God, is ook sy skoonheid.”

“You cannot calculate life. Ons kan die lewe nie wetmatig bereken of beheer nie.

Die dag van God is die dag van gebeur; die Bybel se ‘agtste dag.’”

Daniël het, as kunstenaar, mens en teoloog hierin gegroei: Op 26, ná studie in Duitsland, bedank hy ’n pos by departement Filosofie, om ’n beroep na Wynberg-gemeente te aanvaar, waar hy vyf en ’n half jaar bly. Daarna ’n kort tydjie by Stellenberg-gemeente. Einde 1977 beroep die Fakulteit Teologie hom as se­nior lektor in Praktiese Teologie en Pastoraat na Stellenbosch.

Teologie wat hoop gee

Mettertyd word ’n onrus in hom wakker: Iets is teologies verkeerd. Soekend na geloofwaardigheid, besef hy: “My raamwerk van teologie begin val anders uit as die dogmatiese ‘formules’ vanuit ’n paradigma wat God hoofsaaklik sien as kousaal-oorsaaklik, alwetend, almagtig en onveranderlik. En wat werk met ’n enkelvoudige splitsing tussen liggaam en siel. Ons denke het gestol in almag-kategorieë, wat nie weerloosheid en medelye kommunikeer nie.

“Die ou stryd in die kerk oor die beeld van God, het vir my toenemend na spekulasie begin lyk. Tot ek stadig maar seker begin sien het: Die kerk se paradigmatiese raamwerk word gevoed uit abstrakte, teoretiese etiek. Uit die soeke na logiese, finale, verklarende antwoorde oor goed en kwaad, reg of verkeerd; uit die aanname dat die mens bloot net sleg, totaal verdorwe is.

“Maar Genesis begin met God, die kunstenaar, wat op en af spring. Die letterlike betekenis van die woorde teken ’n huppel-in-die-stap-Skepper, wat kinderlik-opgewonde uitroep: Wow! Dit is goed, baie goed!

“Ons het ’n estetiese teologie nodig. Estetika is die basis-woord waarop die kerk sy hele teologie en etiek moet skoei. Ons moet heel eerste vra: Wat is sinvol? Wat gee hoop? Waarvoor is die mens bestem? Vóór ons vra: Wat is reg of verkeerd? Estetika is meer fundamenteel as etiek. Estetika verklaar nie. Is nie voorspelbaar nie. Ruk jou derms uit. Estetika soek: Waar is jy? Die onwetendheid van God, sy ‘waar is jy?’, is dié punt in die Bybel wat vir my illustreer dat God my liefhet: Dat hy, soos die verlore seun se pa, dwalend van kommer, vir my wag, oor my wonder, wesenlik omgee en méé-ly … Estetika is empaties. God wil troos, omarm, heelmaak.”

Skielik gryp Daniël ’n pen. Maak sy tande daarmee skoon, krap daarmee in sy oor. “Ek kan sien jy hou nie daarvan dat ek dit doen nie,” lag hy. “’n Mens kan ’n pen daarvoor gebruik, maar nie my tande, my oor of die pen is daarvoor bedoel nie. Verstaan jy? Estetika hanteer of gebruik iets – ’n medemens, die lewe, jou liggaam – waarvoor dit bedoel is. En die mens is bedoel, bestem om lief te hê.”

Maar daarom ook: “As jy liefhet, ly jy. Want nie een van ons kan onvoorwaardelik liefhê nie. Dit is godsonmoontlik. Om dan te vra: ‘Wat in my blokkeer die liefde; wat in my verhoed dat my naaste liefde ervaar’, is die pynlikste vraag ooit! ’n Mens moet broos wees, nie in beheer nie, om lief te hê; medelye te ervaar; barm­hartig en ontfermend te leef.

“Estetika help ons méér daarmee as slim etiek, of vaste formules oor reg-en-verkeerd.”

Kuns en die kerk

Daniël sê: “Die beeldestorming van die Reformasie, wat alle kuns uit die kerk geban het, het kuns verkeerd verstaan. Beeld, vorm, lyn, kleur en taal, wil God nie vasvang en manipuleer nie; dit is ikonies, simbolies, metafories, heenwysend na die onsigbare. ‘Geen afbeelding van God’ beteken nie ’n portret nie. Dit dui eerder daarop dat ons God nie moet laat stol tot wat ons kan beheer met ons sintuie en beperkte, dikwels selfsugtige, begeertes nie.

“God is ’n werkwoord, ’n belofte-woord, ’n eindelose doenende dáár-wees, kniediep in ons weerloosheid. Ek is wat Ek is. God is om te wees … Kuns help óns ook om te wees. Kuns werk met ons skerwe, met paradoks. Dit stel onversoenbaarhede langs mekaar, bring die onsigbare na vore. Kuns konfronteer ons met die kernvrae van die lewe. Maar, bowenal, help kuns ons om God se bewoënheid te ontdek.”