THE SHACK
MET SAM WORTHINGTON, OCTAVIA SPENCER, GRAHAM GREENE
VERVAARDIG DEUR BRAD CUMMINGS
REGISSEUR: STUART HAZELDINE
RESENSIE DEUR FRITS GAUM
Hierdie fliek is gebaseer op William P Young se boek, The shack, waarvan uiteindelik meer as 10 miljoen kopieë verkoop is.
Die fliek, soos die boek, het te doen met die diepste vrae van elke mens: Waar is God as ek ly? Gee God regtig om as slegte dinge met mense (selfs “goeie” mense) gebeur? Dié vrae word in die boek en fliek op ’n heeltemal nuwe manier benader. ’n Pa wat sy dogtertjie onder tragiese omstandighede verloor het, ontmoet die drie-enige God in ’n vervalle hut – wat in die proses ’n aangemane woonplek word – en kry kans om sy vrae en sy opstand met God van aangesig tot aangesig te bespreek. God die Vader (hier eerder God die Moeder), God die Seun en God die Heilige Gees word baie “menslik” uitgebeeld. Die Vader is ’n vriendelike swart vrou, die Seun ’n Jood, die Heilige Gees ’n vrou met Asiatiese gelaatstrekke.

Godslasterlik? Daar sal mense wees wat so dink. Ander mense sal reken dat dit God vry staan om Hom op wátter wyse ook al aan mense te openbaar. (In Elia se geval was dit “’n fluistering in die windstilte” – 1 Kon 19:12.) En daar kan nie twyfel wees nie: ons groot lewensvrae word hier op ’n (vir my) onvergeetlike manier met die Here bespreek – en dit sonder doekiesomdraai. Soos die antwoorde ook met deernis en begrip, maar met sekerheid en beslistheid, gegee word.
As ’n mens hierdie fliek benader met die vooropgesette idee dat enige uitbeelding van God wat nie iewers in ’n teksvers in die Bybel presies so beskryf word nie, onaanvaarbaar is, het jy probleme. Indien jy egter die vryheid van die kuns, flieks ingesluit, erken om God steeds op ’n respekvolle maar heeltemal ánder manier en dié waaraan ons gewoond is, uit te beeld, kan dit nuwe deure vir jou oopmaak.
Oor The shack, die fliek, kan ’n mens ’n paar kritiese opmerkings maak. Jy kan dalk sê dat dit hier en daar ’n bietjie sentimenteel raak. Maar oor die algemeen was dit vir my ’n besondere leerervaring: God is, op stuk van sake, nie vas te vang in die beeld wat ons vir Hom wil voorskryf nie. Hy is die Gans Andere, ja. En óók die Een wat soos ons is, een van ons is. Ons is immers na sy beeld geskape.
Gaan kyk die fliek!
