Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Vir die afgelope Algemene Vergadering van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke, moes elke lidkerk se afvaardiging ’n sekere persentasie nie-gelegitimeerdes, jonges en vroue insluit. As redelik jonk en vroulike jeugwerker, is ek die geleentheid gegun om die vergadering vir 12 dae in Leipzig, Duitsland by te woon.
“It’s a dangerous decision to follow Christ, because then you realise how different He is from us and that we need transformation and renewal. He is the source of a transformed life.” Hierdie woorde van dr Jerry Pillay se preek oor Romeine 12:1-2, tydens die openingserediens in die St Nikolai-kerk, is telkens bevestig tydens die gereformeerde saamwees.
Tydens die vroue se vooraf-vergadering is ons uitgedaag deur die mens se gewelddadige andersheid wat die lewe van veral vroue en kinders bedreig. Ons is diep geraak deur navorsing oor en grafiese, persoonlike stories van vroue en kinders wat gebuk gaan onder sistemiese geweld.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2017/07/Melanie1.jpg” caption=”Melanie Thirion is jeugwerker by die NG gemeente Kenridge en lid van die Wes-Kaapse moderatuur.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Op grond hiervan het die vroue besluit: Genoeg is genoeg! Die kerk wat getuig van die andersheid van God, kan nie soos die wêreld teen vroue diskrimineer nie, veral nie ten opsigte van legitimasie tot die amp nie. ’n Sterk verklaring en praktiese aanbevelings is geformuleer en is later deur die week deur die algemene vergadering aanvaar.
Die gesprek oor geweld en vroue het telkens ’n vraag oor geweld teen en insluiting van die LGBTIQ-gemeenskap na vore laat kom. Dit is duidelik dat gereformeerde kerke wêreldwyd hiermee stoei. Daar was heelwat afgevaardigdes wat deel is van die LGBTIQ-gemeenskap. Om etenstafels en met tremritte het ek opnuut die pyn gehoor van gedoopte mense wat doelbewus uitgesluit word. Wanneer gaan ons die moed hê om hieroor ook te sê: Genoeg is genoeg?
Om gereformeerd te wees is om ekumenies te wees. Leipzig se gemeentes het ons op besonderse maniere ingenooi en as ekumeniese liggaam saamgetrek. Een hoogtepunt was ons deelname aan die weeklikse vredesgebede by die St Nikolai-kerk in Leipzig se middestad. Hierdie weeklikse gebede het ontstaan as vreedsame protes teen die Berlynse muur. Die gebede het versprei na Oos-Berlyn en het gelei tot die val van die muur in 1989.
Mag ons almal voortdurend getransformeer word deur ons Skepper, Verlosser en Gees.
▶ Melanie Thirion is jeugwerker by die NG gemeente Kenridge en lid van die Wes-Kaapse moderatuur.