Dr Carin Van Schalkwyk is predikant van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk se gemeentes op Philippolis in die Suid-Vrystaat. NEELS JACKSON het daar gaan kuier.
Karin van Schalkwyk dink terug aan ’n dag dat sy by Ouma Nan Padda gestaan het in haar kombuis in Bergmanshoogte, die tradisioneel bruin woonbuurt van Philippolis.
Die meel was min en dit was Maandag. Betaaldag was eers Donderdag. Maar Ouma Nan het al haar meel in die pot gegooi.
Carin het probeer kapsie maak, gedink die meel moet spaarsaam gebruik word sodat daar vir elke dag tot betaaldag darem iets sou wees.
Toe vertel Ouma Nan dat sy die vorige dag in haar kombuis gestaan het. Uit haar kombuisvenster en by die bure se kombuisvenster in kon sy sien hulle meel is heeltemal op. Die kind gaan net op water skool toe. Toe vat Ouma Nan ’n klomp van haar meel en maak vir die bure ook pap.
Môre, sê Ouma Nan, sal iemand anders sien haar meel is op, dan sal hulle vir haar help. So sorg hulle vir mekaar.
En sy herinner vir die dominee aan die teks van die voëls van die hemel en die lelies van die veld en die Vader wat sal sorg. Glo die dominee dit, wou Ouma Nan weet?
Hierdie eenvoudige geloof en hierdie soort sorg vir mekaar het sy nie vir die mense van Bergmanshoogte, geleer nie, sê Carin. Sy het dit by hulle geleer.
Voor Philippolis en voor Bergmanshoogte was Carin ’n jeugwerker in ’n welvarende gemeente in die Boland. Mense het vir haar gesê dat sy goed gedoen het daar, maar dit was nie die soort bediening waarin sy tuis gevoel het nie.
Die Here het met haar gepraat deur Matteus 25, die teks waar Jesus vertel dat hy honger en dors was, ’n vreemdeling en sonder klere, siek en in die tronk – en dat party vir Hom gesorg het en party nie. En as hulle Hom vra wanneer dit gebeur het, sê Hy vir sover hulle dit aan die geringstes gedoen het, of nié gedoen het nie, het hulle dit aan Hom gedoen, of nié gedoen nie.
Daarom, toe daar ’n pos by die VGK in Bergmanshoogte geadverteer word, het sy aansoek gedoen. Toe sy 19 jaar gelede oor die Oranjerivier ry, was sy in trane, vertel Carin. Sy het geweet dit is waar sy moes wees.
Ragel Padda
Die gevoel was wedersyds. Ragel Padda vertel toe Carin daar aankom was die gevoel: “Waar was sy al die tyd?” Ragel is ’n dogter van Ouma Nan wat intussen oorlede is.

Van Carin praat Ragel as “ons dominee wat haar spreekkamer op die stoep het”. Sy sit maklik op ’n stoepmuurtjie op die sypaadjie met mense en gesels. “Sy praat dieselfde taal as ons. Sy het een geword met ons,” vertel Ragel.
Die eerste agt jaar was Carin net die predikant van die VGK. Deur die ooreenkoms tussen die NG en VG gemeentes het sy ook op die kerkraad van die NG Kerk gedien.
Dit was moeilike tye. In 1999 het hulle hulle eerste vigssterfte gehad. Aanvanklik het hulle nie verstaan wat gebeur nie.
Dit het ’n vloedgolf geword. In die begraafplaas wys Carin die paar rye grafte wat daar was toe sy in Bergmanshoogte aangekom het en die rye en rye grafte wat bygekom het weens vigs.
Daar was Saterdae wat sy drie of vier begrafnisse moes lei. Van ’n koor van 20 lede was daar net vyf wat sy nie begrawe het nie. Sy het soms soos die doodsengel gevoel.
In Bergmanshoogte se kerkraad het hulle daaroor gepraat en besluit hulle sal enigiemand begrawe – terwyl daar ander kerke was wat geweier het om mense te begrawe wat vigs gehad het.
In hulle gemeente het hulle die stigma oor MIV en vigs verbreek. Toe medisyne beskikbaar geraak het, het hulle gesorg dat hulle mense dit kry. Hulle het mentors en tuisversorgers opgelei. Hulle het hulle siekes versorg.
En soos die kerk van die eerste paar eeue wat gegroei het toe die Christene al was wat bereid was om die siekes te versorg, so het Philippolis se VGK gemeente gegroei ondanks al die sterftes onder hulle mense. Dit was die kerk wat mense met MIV nie veroordeel het nie.
Philippolis het nie een straatkind nie, sê Carin, want hulle het vir die kinders wat sou wees word, ander sorgouers gevind nog voor hulle eie ouers gesterf het.
Intussen het die NG gemeente op die dorp al kleiner geword. Landbougrond is opgekoop vir ander doelwitte en die aantal boere in die omgewing het met die helfte verminder.
Die NG gemeente het gesukkel om te verstaan wie hulle was, sê Carin. Die draaipunt het gekom toe hulle aanvaar het hulle is nou ’n klein gemeente – te klein om ’n voltydse predikant te beroep. Daar is met die VGK onderhandel oor Carin se tyd en sy is beroep in ’n 40%-pos. Deur die afskaling van die predikantspos het daar geld losgekom vir barmhartigheid.
Noudat sy predikant van albei gemeentes is, kry die wit en gekleurde mense van die NG Kerkfamilie op Philippolis elke Sondag dieselfde boodskap. Wat sy by die een preek, preek sy by die ander. Hulle bly in een konteks en kry een boodskap, sê Carin. Dit is ’n boodskap van menswaardigheid, van respek vir ander mense en van omgee vir mekaar op grond van die liefde van Christus.
En die gemeentes groei al nader aan mekaar.
Destyds toe Carin in Philippolis aangekom het, was die gemeentes ver van mekaar af, sê Ragel Padda terwyl sy haar arms uitstrek om met haar hande die groot afstand te probeer aandui.
Mettertyd het hulle al nader aan mekaar gekom, sê sy terwyl sy haar hande nader aan mekaar bring. As sy haar palms teen mekaar druk, sê Ragel dat hulle nog nie só bymekaar is nie, maar hulle vorder.

Carin vertel hoe daar 19 jaar gelede NG lidmate was wat opgestaan het en uit die kerk uitgestap het omdat ’n koor van die VGK daar gesing het.
Ragel vertel hoe ongemaklik sy self vroeër gevoel het om na die groot NG kerk toe te gaan. Nou is daardie gevoel weg. Nou stap sy in en sit waar sy wil.
In Desember, vertel Carin, het hulle ’n gesamentlike biddag vir reën in die NG kerk gehou. Van alle kleure was mense daar en bruin en swart gelowiges het opgestaan om vir die boere te bid.
Saam met die NG Kerk se aanvaarding van die feit dat hulle ’n klein gemeente is, het groter lidmaatbetrokkenheid gekom. Lidmate het besef hulle moet self verantwoordelikheid aanvaar.
Die twee gemeentes se komitees vir barmhartigheid dink ook nou saam oor hulle bydraes in die gemeenskap. Hulle werk saam en hulle sorg saam vir die mense in nood.
Carin vertel van die sopkombuis. Vroeër het die NG gemeente se lidmate gegee en daar is kos gegee vir lidmate van die VGK. Maar dit het verander. Daar is lidmate van die VGK wat nou goeie poste het en salarisse kry. Sy het hulle uitgedaag om ook nou bydraers te word. En onder die NG Kerk se lidmate is daar ook mense wat swaar kry en wat versorg word.
Sy is ’n brug tussen die twee gemeentes, maar sy druk niemand in ’n blik nie. Dinge ontwikkel baie spontaan en normaal. Al meer bruin en swart mense bly nou in die dorp waar vroeër net wit mense gebly het. Hulle is bure.
Ragel vertel dat sy ’n passie vir bejaardes ontwikkel het. Die vriendskap wat ontwikkel het tussen haar en tannie Chrisna van den Berg, en van die bejaarde NG lidmate op die dorp, het hulle so naby aan mekaar gebring soos familie.
Maar nou het tannie Chrisna se kinders haar Bloemfontein toe geneem waar sy beter versorg kan word en Ragel se hart is seer van die verlange. Maar sy sal wel meer by van die ander bejaardes betrokke raak.
Danie Vrolikheid
Danie Vrolikheid is een van die NG lidmate wat sy geloof in omgee vir ander mense uitleef. Hy is eintlik Danie Cilliers, maar soos dit op Philippolis gaan, het hy ’n bynaam gekry om hom te onderskei van ander Danies op die dorp. En omdat sy plaas se naam Vrolikheid is, het hy Danie Vrolikheid geword.

Danie bedryf ook die slagpale op die dorp. Eintlik moes hy die slagpale lankal toegemaak het, sê hy. Dit sou baie makliker wees. Die probleem is dat watertoevoer op die dorp weens wanbestuur deur die munisipaliteit baie problematies geraak het. En sonder water kan jy nie slag nie.
Maar by die slagpale werk daar 30 mense. Een ou, vertel Danie, het twee vroue en nege kinders. Daar is 12 mense in dié man se huis wat leef van dit wat hy by die slagpale verdien.
Carin sê daar is gemiddeld seker vyf tot ses kinders per gesin. En dan is daar baie mense wat ook vir uitgebreide families sorg.
Daarom het Danie laat boor vir water. Om die slagpale oop te hou. Om mense in diens te hou. Omdat hy omgee vir sy mense en vir die dorp.
Die mense is sy mense nie net omdat hulle vir hom werk nie. Danie vertel dat die swart mammas hulle as kinders help grootmaak het. Hy het dikwels saam met swart mense pap geëet, en een keer (waarvoor hy slae gekry het), ook saam met hulle van hulle bier gedrink, lag hy.
Hy doen dit omdat hy ’n Christen is, sê Danie. As dit nie daarvoor was nie, kon hy homself onttrek en op sy plaas gaan sit.
So gaan die omgee in Philippolis oor allerlei grense.
Carin vertel van ’n jong Bangladesji wat, soos ander Moslems, in die dorp ’n winkeltjie kom bedryf het. Toe hy swaar kry, het die kerk vir hom ook ’n kospakkie gegee.
Maar toe het daar ’n verhouding tussen hom en ’n wit vrou op die dorp ontstaan. Toe hulle weer sien, is sy swanger en daar word ’n dogtertjie gebore. Hy is terug Bangladesj toe en die ma kon nie alleen vir die kind sorg nie. Toe help die kerk weer.
Op ’n dag, toe die kerk weer blikkieskos insamel, loop iemand in die staat af om blikkies by die huise te gaan haal. Een van die Moslems keer die man voor en vra wat hy doen. En hy vertel.
Wie word almal gehelp? wou die Moslem weet.
Almal wat hulp nodig het, kom die antwoord.
Soos dié dogtertjie ook? vra die Moslem.
Soos die dogtertjie ook, word bevestig.
Dan wil hy ook bydra, sê die Moslem.
En hy laat weet al die ander Moslems op die dorp en nou dra hulle gereeld by tot die kerk se omgeewerk. En wie weet, dalk help dit die sendelinge wat uitreik na Philippolis se Moslems om die evangelie by hulle tuis te bring.
En so leef die evangelie op Philippolis in mense se omgee vir mekaar.
