Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wie is Jesus Christus vir ons vandag?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In sy brief aan Eberhard Bethge op 30 April 1944 skryf Dietrich Bonhoeffer dat hulle ’n tydperk ingaan gekenmerk deur godsdiensloosheid.

Hy beskryf in hierdie woorde nie net sy verstaan van die destydse tydsgees nie. Hy is self ook krities oor die godsdienstigheid wat verlore gaan – oor ’n me­­tafisiese, subjektiewe “God of the gaps” wat slegs in­­g­e­roep word waar en wanneer óns ’n god nodig het.

Dit is juis deur ontslae te raak van dié soort gods­dienstigheid, deur hierdie valse idees wat ons van God mag hê uit die weg te ruim, dat dit dalk weer moontlik sou kon word om te herken wie God werklik is.

Dis vir hom nóg die einde van geloof, nóg die einde van God, inteendeel. Dis eerder ’n geleentheid om die God van die Bybel te herontdek. En daarom vra hy wat dit vir die kerk sou kon beteken. As godsdiens net die kledingstuk is waar­in Christenskap geklee is – is daar iets soos ’n gods­diens­lose kerk?

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2017/08/Henco-vdW1.jpg” caption=”Dr Henco van der Westhuizen doseer historiese teologie aan die Universiteit van die Vrystaat.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

Hysélf antwoord die vraag met ’n verdere vraag: Wie is Jesus Christus vir ons vandag? Dit is die vraag wat die kerk vandag moet bly vra! Dié wie-vraag impli­seer egter weer die teenvraag: En wie is ons? Dié vraag konfronteer die kerk wat so dikwels van God praat – asof ons weet wie hierdie God is.

Dié vraag konfronteer die kerk met die werklikheid van die opgestane Gekruisigde, wat Hom uit die wêreld laat uitstoot het, wat kragteloos in die wêreld is.

Dit konfronteer die kerk met die Jesus wat Jesus vir ánder is – selfs wanneer en as hulle teen Hom was en is. Dié vraag vra dat die kerk sal wees wie en waar hier­die Jesus is. En juis daarom sê Bonhoeffer: Die kerk is net die kerk as dit vir andere daar is!

Solank dit dan nie weer ’n gemaklike formule word, waarmee óns besluit wie die ander is – en so nooit die sanctorum communio word wat Bonhoeffer van sy eer­ste werke af voorgestel het nie!

Dalk is die vrae wat spruit uit Bonhoeffer se vraag die sleutel tot sy verstaan van kerkwees vandag: Word ons nog gekonfronteer deur hierdie Christus? Is ons nog die kerk van die opgestane Gekruisigde? Of weet ons reeds wie Hy is of wie ons wil hê Hy moet wees?

Is ons nog sý liggaam? Of is “ons” kerk ook waar Hy “sy” kerk gesien het: “Our church has been fighting during these years only for its self-preservation, as if that were an end in itself” (DBW 8:389).

Dr Henco van der Westhuizen doseer historiese teologie aan die Universiteit van die Vrystaat.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top