Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

God se genade vloei deur die gemeente

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Na wat vertel word is een van die vrae waarmee die jong Martin Luther geworstel het die vraag: “Waar vind ek ’n genadige God?” As kin­ders van die Kerkhervorming van 500 jaar gelede kan ons met dankbaarheid getuig dat Luther inder­daad later vanuit die Skrif van ’n antwoord op die vraag oortuig is.

Die indruk is dat dit in besonder die kerk en haar leer van destyds was wat die soort angs by Luther, en ons kan aanvaar baie van die meeste gelowiges van sy tyd, veroorsaak het. Luther se oortuiging oor God se ge­nade in Jesus Christus het gespruit uit ’n nuwe per­spektief op die interpretasie van die Bybel. Die geskie­denis leer ons dat die hervormers onder meer deur die hu­manistiese beweging van destyds se benadering tot die lees van antieke tekste beïnvloed is.

Een van die positiewe nadraaie van die Kerkhervorming is dan juis ook die erns wat ons vandag met Skrif­interpretasie geïnformeer vanuit verskeie hulpwetenskappe maak. Wanneer ’n mens Deuteronomium 10:12 – 11:1 vanuit die perspektief van ’n struk­tuuranalise van die verse lees, val die middelpunt van die gedeelte (Deut 10:18-19) jou onmiddellik op. Daar staan: “Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere. Jy moet ook die vreemdelinge liefhê, want jy was self ’n vreemdeling in Egipte.”

Uit hierdie gedeelte is dit duidelik dat ons as kinders van die Hervorming nie alleen maar die antwoord op die vraag “Waar vind ek ’n genadige God?” moet koes­ter nie, maar dat die kerk as die “vergadering van die Here” (geloofgemeenskap) geroep is tot kanaal of voer­­­tuig van God se genade.

In die betrokke teks word die genade en verlossing wat Israel uit God se hand ontvang het toe hulle die weerlose randfigure in die gemeenskap was, in herin­ne­ring geroep. Israel word opgeroep om as begenadig­des nie God se genade vir die randfigure in hulle ge­meen­skap te versluier nie, sodat geen mens vandag hoef uit te roep “Waar vind ek ’n genadige gemeente?” nie.

Opvallend is dat God se eer en die geloofsgemeenskap se liefde vir die Here juis in verband met haar getrouheid aan hierdie opdrag van die Here ten opsigte van die weerlose in die gemeenskap in verband gebring word.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top