Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Vanjaar, met die 500-jarige herdenking van die Reformasie, word daar in die besonder gedink aan die figuur van Martin Luther. Nie net die Reformasie nie, maar ook Luther se besondere teologiese bydrae, spesifiek sy 95 stellinge, word herdenk; en dikwels ook nie juis die inhoud van sy stellinge nie, maar liewer die sosio-politieke uitwerking wat die Reformasie uiteindelik op die kerk en binne die samelewing sou hê.
Die stellinge is immers die rede waarom die Reformasie juis vanjaar gevier word; die vonk waarmee die teologiese debat oor die kerklike aflaatstelsel (maar daarmee ook veel breër: oor kerklike gebruike, kerklike strukture, en kerklike gesag) in alle erns binne die Katolieke kerk sou vlamvat; die rasionaal waarom hele dorpe – soos Wittenberg in Duitsland, waar Luther gewoon en gewerk het – vanjaar ingerig is vir talle internasionale Reformasievieringe.
Daar is dus baie wat gesê sou kon word, en alreeds baie wat wél gedoen is, om vanjaar die Reformasie, en Luther, en die 95 stellings, te herdenk. Tog is die vraag of dit die punt van die stellings self is en sou wou wees? Hoe vier ’n mens vanjaar die Reformasie? Behels dit om preekreekse oor die klassieke vyf solas aan te bied en by te woon? Of ’n foto voor die kerkdeur in Wittenberg, waar Luther na oorlewering die 95 stellinge vasgespyker het, op Facebook te deel (of te like)? Om dalk ’n fliekaand binne gemeentes te reël en opnuut beïndruk te word deur die toneelspel van Joseph Fiennes as Martin Luther, in die fliek Luther (2003)? Of beteken dit dalk om die rebel Luther as ’n soort 16de eeuse Ché Guevara aan te hang – die held wat Empire uitdaag, en wen?
Dit is dus die moeite werd om die 95 stellings in hierdie jaar te lees; en in die besonder aandag te skenk aan die 62ste stelling. Dit lees, in Latyn, soos volg: Verus thesaurus ecclesie est sacrosanctum evangelium glorie et gratie Dei. (Die ware skat van die kerk is die heilige evangelie van die glorie en genade van God.)
Die gebruik van die woord “skat” (thesaurus) is nie onskuldig nie. Ander verwysings daarna, in die 95 stellinge, maak dit baie duidelik. In totaal verwys Luther hierin sewe keer na “skatte” (stellings 56, 59, 60, 62, 64, 65 en 66). Nie net is stelling 62 die middelste van die sewe verwysings na skatte nie – met drie verwysings wat dit voorafgaan, en drie verwysings wat daarop volg – maar dit is ook die énigste plek, in die héle dokument, waar Luther vooraan ’n woord byvoeg: “ware” (verus).
Sy punt is glashelder. Daar is geen verwarring by hom oor die skat(te) van die kerk nie. Die evangelie is die skat van die kerk; en geen versekering vir verlossing, al word dit ook deur die kerk en die dominees van die kerk gegee, kan gekoop word nie. Verlossing is nie maar net één skat onder ’n klomp skatte van die kerk nie; maar die wáre skat van die kerk, stel Luther dit onomwonde in stelling 62. Dit is die wérklike skat, die énigste skat, dié skat wat saak maak vir die kerk; die kosbaarste, belangrikste, waardevolste – vir die kerk. Geen aflaatbriefies, of valse selfversekerings, of tiendes, of offergawes, kan ons verlossing koop nie. Die evangelie is die evangelie van genade – die betrokke stelling kwalifiseer dit selfs verder, as die genade van Gód (gratie Dei). Dit is ’n genade wat nie gekoop kan word nie, maar wat slégs ontvang kan word.
Die evangelie is die wáre skat van die kerk.
Op 5 Julie 2017, het die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke – waarvan die NG Kerk lid is en waarheen ’n afvaardiging gestuur is – saam met die Lutherse Wêreldfederasie – die “Wittenberg Witness” onderteken. Die doel van die verklaring, lui die verklaring self, is om – in Lutherstad, in die kerk waar Luther self gereeld gepreek het, binne die tradisie van Luther en die Reformasie – opnuut die toewyding aan eenheid bínne die kerk en die gegewe eenheid ván die kerk te bely.
Die 34-jarige Martin Luther skryf die 95 stellings júis nie met die bedoeling om kerkskeuring te veroorsaak, of ’n nuwe kerk te stig, of selfs om vir homself ’n publieke reputasie toe te eien nie. Maar hy sien in, kom tot die oortuiging, dat hy nie kan stilbly nie, nie niks kan sê, wanneer die evangelie self te koop aangebied word nie. Dit sou, trouens, die tema vir die Lutherse Wêreldfederasie se vergadering vroeër vanjaar in Mei, in Namibië, wees: “Liberated by God’s grace”. Hierby sou drie subtemas gevoeg word: (1) “Salvation – not for sale”; (2) Human beings – not for sale”; en (3) “Creation – not for sale”. Die boodskap is duidelik: Die evangelie is nie te koop nie. Die goeie nuus van ons verlossing, van God se genade wat in oorvloed aan ons gegee word, is die wáre skat van die kerk.
In hierdie jaar is Luther se woorde dalk ’n tydige herinnering: Die wáre skat van die kerk is die evangelie. En “waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Matt 6:21).
▶ Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
