Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Uiteenlopende verhale dra een boodskap

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dit is opvallend hoe verskillend die vier Evangelies oor Advent en Kersfees verslag doen.

Markus vertel niks daarvan nie, Johannes het ’n proloog wat die verhaal van Jesus voor die skepping begin (Joh 1:1-18), terwyl Matteus en Lukas die gebeure rondom Jesus se geboorte vanuit verskillende perspektiewe vertel.

Matteus begin met Jesus se geslagsregister vanaf Abra­ham wat Hom via sy voorgeslag verbind met die Ou Testament voordat hy ’n verhaal vol intriges vertel waarin Josef die hoofkarakter is.

Só is dit Josef wat besef sy verloofde is swanger (Matt 1:18-19) en deur ’n engel besoek word wat hom aanmoedig om met haar te trou en Jesus aan te neem (Matt 1:20-25). Ná die geboorte van Jesus is daar geheimnis­volle besoekers uit die Ooste, ’n vreemde ster, ’n moordkomplot teen Jesus en ’n massaslagting. Te midde van al die gevare is dit die Here wat Josef lei om eers te vlug na Egipte (Matt 2:13) en dan om weer te­rug te keer en sy familie in Nasaret te vestig (Matt 2:20-23).

In die beskrywing van Josef se optrede sê hyself nooit ’n woord nie. Hy slaap, droom en gehoorsaam bloot die Here.

Terwyl Matteus soos ’n hedendaagse riller lees met geheimenisvolle boodskappe en bedreigings met ’n manlike held wat min sê maar telkens die regte ding doen, klink Lukas se weergawe soos ’n moderne mu­siekblyspel waarin vroue prominent is.

Dit bevat twee stories van vroue, Elisabet en Maria, wat hoor dat hulle swanger is (Luk 1:5-25, 26-45) en wat verweef is met die lofliedere van Elisabet (Luk 1:42-45), Maria (Luk 1:46-55) en Sagaria (Luk 1:68-80).

Lukas vertel ook uitvoerig van beide seuns se geboortes (1:57-80; 2:1-21) waarop sowel die engele (Luk 2:14) as die skaapwagters (Luk 2:20) lofliedere sing oor die geboorte van Jesus voordat Simon finaal oor die kindjie sing (Luk 2:29-32).

Uit die kort oorsig is dit opvallend hoedat die geboorteverhale van Jesus aansienlik meer van mekaar verskil in detail en toonaard as die verhale oor sy krui­si­ging. Dit is net die geboorte van Johannes die Doper wat in Matteus en Lukas voorkom.

Terwyl die oorlewering van Jesus se geboortever­hale dus oënskynlik grootliks los van mekaar geskied het, is die boodskap van al vier dieselfde: In die ge­boor­te van Jesus het God op ’n wonderbaarlike wyse in die wêreldgeskiedenis ingegryp om verlossing te bring. Hoe ons ook vandag Kersfees vier, moet dit dus ons fokus bly.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top