Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Meer en meer kleiner gemeentes kan nie meer predikante bekostig nie. Die vraag word hard en selfs verwytend gevra: “Wat doen die kerk daaraan?” So asof geestelike werk in ’n gemeenskap stop die oomblik wanneer die laaste predikant vertrek.
Terwyl daar in vergaderings gepraat word en naarstigtelik na oplossings gesoek word, kan die geskiedenis van die NG Kerk ons dalk help – en wel met die “amp van sieketrooster”. Vir die eerste 13 jaar na die koms van Van Riebeeck in 1652, was die gelowiges aan die Kaap immers aangewese op die geestelike versorging van “sieckentroosters”. Die kerk onder hulle leiding het so ontwikkel en gegroei dat daar in 1665 ’n eerste predikant beroep kon word.
Voornemende sieketroosters moes ’n getuigskrif oor hulle leer en lewe gee waarna hulle oor hulle leer-, lees- en sangvermoë getoets is. Daarna is hulle deur die Ring van Amsterdam uitgestuur.
Hierdie manne het ’n veeleisende taak gehad. Hulle moes Sondae die gemeente vermaan, die samesang lei en uit die Bybel en erkende preekbundels voorlees. Benewens hulle werk op Sondae, moes hulle gedurende die week die oggend- en aandgodsdiens lei en siekes besoek. Hulle was ook verantwoordelik vir kategese.
Onder leiding van die sieketroosters is daar uitgereik na die plaaslike bevolking. In April 1664 het die sieketrooster gerapporteer dat kinders van slawevroue en ’n aantal Khoi-kinders die Ons Vader-gebed kon opsê en verstaan.
Vanaf 1652 tot 1665 het vier sieketroosters gelowiges aan die Kaap bedien. Willem Wijland, wat in 1652 saam met Van Riebeeck op die Drommedaris aangekom het, Pieter van der Stael, Ernestus Back en Jan Jorisz.
Dit was veral Wijland wat groot moeite gedoen het om kontak te maak met die plaaslike Khoikhoi. Hy het van die Khoi-jongmense by hom laat woon en met groot ywer probeer om hulle taal aan te leer. Hy het ook probeer om hulle te leer lees en skryf.
Uit die geskiedenis is dit duidelik dat die eerste gemeente in die Kaap aanvanklik goed sonder ’n predikant klaargekom het. Alhoewel die ideaal altyd was om ’n leraar te beroep, het geestelike werk voortgegaan onder leiding van die sieketroosters. Met die verspreiding van lidmate in ’n groter wordende kolonie en die stigting van nuwe gemeentes, sou predikante ’n luukse bly.
As die eerste gemeente in die Kaap sonder ’n predikant kon groei, kan bestaande gemeentes sonder predikante mos ook! Gemeentes sonder predikante is immers van die begin af niks nuuts nie! Miskien moet die kerk, met die voorbeeld van die amp van sieketrooster in gedagte, vars dink oor nuwe moontlikhede vir die toekoms.
▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.