By Promised Land in Ga-Rankuwa, noord van Pretoria, vat die NG gemeente Lynnwoodrif hande met sendeling Jacques Mbiya uit die Demokratiese Republiek van die Kongo. Daar word kerk gehou, groente gekweek en ’n kleuterskool bedryf.
Mbiya het in sý land ’n roeping gekry om na Suid-Afrika te kom. Sy vrou, Juliette, kom van Zambië.
Die projek word bedryf deur Lynnwoodrif se Jeug- en Gemeenskapsentrumtrust. Hulle betaal Mbiya en die twee onderwyseresse by die kleuterskool se salarisse en finansier ook die projekte hier by Promised Land.
In 2008 het Lynnwoodrif ’n paalstruktuur opgerig wat deur Jaques Mbiya gebruik is vir die kerk. Die struktuur is met seile toegespan maar reën en wind het ’n probleem geskep. Later is ’n baksteengebou opgerig wat as kerkgebou dien. Daar is 80 gemeentelede. “Ons fokus is om die Woord te preek en evangelisasie te doen,” sê Jacques.
Die ou paalstruktuur is omhein sodat die groentetuin hierbinne ontwikkel kon word. Twee persone is betrek om die groentetuin te bestuur. Daar is spinasie, wortels en mielies wat aan die kleuterskool voorsien word.
In 2017 is begin met die ontwikkeling van ’n kleuterskool onder leiding van Juliette Mbiya. Daar is tans nege kinders.
“As die kinders seweuur afgelaai word, word daar begin met godsdiensoefening. Daarna is daar speeltyd en leertyd. Ons volg die kurrikulum van die Departement van Onderwys. Elke maand of twee word ’n tema behandel soos die liggaam en die gemeenskap. Middagete is om 12 en daarna word daar gerus. Na rustyd word daar gespeel totdat die kinders gehaal word,” vertel Juliette.
Van die Mbiya-egpaar en Putz se ander drome vir Promised Land is installasie van sonpanele vir voorsiening van krag; ontwikkeling van ’n sportbaan vir aksiekrieket en om sokker en netbal te bied vir die jeug. Hulle wil ook ’n boorgat sink en ’n herwinningsprojek aan die gang kry.
– Johann Putz kan bereik word by 084 511 2277.
