Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Prop Jannie Botha van Witfield skryf:
Ek lees die artikel van Francois Mulder (Rock-ikone hou ‘missionale eredienste’ – Kerkbode, 26 Januarie) nou vir die vierde keer. Nog steeds kan my verstand en my hart nie verstaan of begryp hoe hy God – die heilige drie-enige God – en die sogenaamde eredienste bymekaar bring nie.
Ek is tot in my wese geskok! By watter skool het ds Francois Mulder sy opleiding ontvang? Ek lees die liedere wat hy aanhaal en dit maak nie sin nie. Dit het niks met die aanbidding en verering van God te doen nie.
Gaan lees Nehemia 9 en ervaar hoedat God aanbid word wanneer die volk na die Wet luister – staande vir byna ses ure lank. Hulleself voor God neerbuig en verootmoedig.
God praat deur sy heilige Woord en nie deur wêreldse musiek nie.
Ek vind dit uiters skokkend dat dit ’n erediens genoem word en dat ’n leraar van die NG Kerk dit so wonderlik ervaar as deel van sy aanbidding van God. Dit is skreiend om die minste te sê.
Verder is ek bitter teleurgesteld dat Kerkbode dit goedgevind het om enigsins so iets te plaas. Word bydraes nie teen die Woord gemeet nie?!
Ek wil nie veralgemeen nie (kan ook nie), maar ek wil pleit dat ons leraars – wat veronderstel is om die Woord te verkondig en nie U2 se versinsels nie – tog begin om hulle Bybel te lees en te bestudeer en na God te soek, en nie by die wêreld hulle riglyne vind nie.
Ek wonder waarna hy verwys as hy die volgende begrippe in sy brief gebruik: “U2-gemeente”, “hy spreek die seën uit”, “die votum” ens? Inhoudelik is dit beslis nie in lyn met die Woord nie – met wat is dit dan in lyn? Is God se Woord nie meer goed genoeg nie? Ek vra maar net. Ek bid dat ons kerk tot bekering sal kom.
– Die hele punt van ds Mulder se artikel is juis dat U2 se musiek die boodskap van die evangelie uitdra. – Redakteur.
