Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Isabel Ballot van Pretoria skryf:
Ek onthou hierdie trooswoorde waar ek angstig in die dokter se spreekkamer sit en wroeg oor wat sy uitspraak oor ’n gewassie sal wees. Dié woorde kom uit ’n ander era. Dertig jaar gelede toe ek ’n sorgvrye student was en aan die Students’ Christian Association behoort het. Wat ’n wonderlike organisasie! Daar het ek meer gekerk as in die formele kerk.
Sommige Christene sê welmenend: Jy moet nét glo en die Here sal jou genees. Glo en die Here sal jou van jou finansiële probleme, siekte en ander bekommernisse genees. As ek in geloof eerder as God sou glo, sou ek die gebruik van my anti-psigotiese middels staak met onnoembare gevolge.
Wat ék weet is dat die Here my altyd naby sal wees. Hy sê so op verskeie plekke. Ons word telkens opgeroep om in die Here te glo, maar nêrens in die Woord word ons opgeroep om in geloof te glo nie.
In Psalm 69:1-4 roep Dawid na God soos maar meermale sy gewoonte was. Hy gebruik treffende beelde waarmee ons almal kan identifiseer: “… die water het tot by my keel gekom, ek het weggesak in diep modder waarin ek nie kan staan nie, ek het my moeg geroep om hulp”. Dawid het geweet waar sy hulp vandaan kom.
Die gewassie was toe onskadelik, maar terwyl ek daarmee saam geleef het, het dit my geleer dat my hulp van God af kom en nie van my geloof afhanklik is nie.
