Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
“I am wrenched by the abuses our language, our theology, and our church perpetrate against women and gays” (Serene Jones).
Verlede jaar het Australiese kerkleiers op ’n ry – vanaf die Anglikaanse kerk tot die Baptistekerk – amptelik en publiek om verskoning gevra vir die kerk se aandeel aan geweldpleging teen vroue. Dit het gevolg nadat ’n verslag deur ABC News verskyn het waarin die kerk se rol in die normalisering van huishoudelike geweld teenoor vroue beskryf word. Daar is een besondere argument wat by herhaling opgeduik het in die onderhoude met vroue (en veral predikantsvroue): naamlik, dat daar van vroue verwag word om hulleself ondergeskik te stel aan hul mans.
Suid-Afrikaanse vroueteoloë – waaronder Sarojini Nadar en Miranda Pillay – het jare gelede alreeds uitgewys, ook in publieke korrespondensie met geloofsleiers soos Angus Buchan, dat dieselfde argument in Suid-Afrika bygedra het tot “verteerbare patriargie”. Die aandrang op die stilswye van vroue in die kerk en verbod op bekleding van sekere kerklike ampte is nie onskuldig nie, want dit dra by tot magspatrone en magsdinamika binne publieke en private ruimtes waarbinne vroue onveilig is en ongelyk behandel word.
Trouens, binne Gereformeerde geledere is daar verlede jaar uitdruklik standpunt ingeneem ten gunste van vroue in die predikantsamp. By die World Communion of Reformed Churches se General Council is ’n geloofsverklaring oor die bevestiging van vroue in die predikantsamp aanvaar. Ook hier het Suid-Afrikaanse vroueteoloë – soos Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel en Yolanda Dreyer – belangrike bydraes gelewer.
By hierdie vergadering is die punt gemaak dat geweld teen vroue sowel publieke as private vorme aanneem; dat seksisme sowel blatant as subtiel is; en dat die mees gevaarlike en verwoestende vorme van magsvergrype dalk juis dié interaksies is – klein, onopvallend, onopsigtelik – wat alledaags en oënskynlik normaal is.
Dit is nie moeilik om blatante, publieke vorms van seksisme raak te sien en aan te spreek nie; maar hoe gemaak met subtiele, fyner vorms van seksisme – soos taalgebruik – binne die kerk? Is die subtiele taaluitsluitings – soos die aanspreekvorm “broer” in amptelike vergaderings – geoorloof gewoon omdat dit gevestig is? Is die subtiele vooroordele teen vrouepredikante – soos die voorkeur vir manlike kandidate alreeds in kerklike advertensies van beskikbare beroepe – aanvaarbaar omdat ’n manlike kandidaat die voorkeuropsie is? Is die afvaardiging van vrouepredikante na sinodale en ekumeniese vergaderings hoegenaamd ’n prioriteit?
In die verhaal The handmaid’s tale beskryf Margaret Atwood ’n skrikwekkende toekoms waarin sowel publieke, blatante, growwe vorms van geweld teen vroue as subtiele, verfynde, versteekte seksismes deur die kerk geregverdig word. In hierdie verhaal word vroue nie alleen ondergeskik gestel aan mans nie, maar word vroue ook teen vroue geposisioneer. Uiteindelik ontken die verwronge magsverhoudinge lewegewende moontlikhede nie alleen vir die handlangervroue wat kinders moet baar namens ander vroue nie, maar vir elke karakter in die verhaal, insluitend die mans.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/07/Nadia-Marais-swart.jpg” caption=”Dr Nadia Marais doseer sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Die verhaal staan in strakke kontras met die beskrywing “kartografieë van genade”. Hierdie is die subtitel van ’n boek geskryf deur die bekende feministiese teoloog, Serene Jones, wat onlangs as die eerste vrouepresident van Union Theological Seminary in New York en president van die American Academy of Religion verkies sou word.
Sy argumenteer dat die Christelike geloof deur die lens van feministiese teorieë gelees sou kon word – en daarmee spesifiek deur die bril van vroue se ervarings en interpretasie van Christelike leerstellings soos sonde, regverdiging en heiligmaking – om nuwe (en soms vergete) aksente van ons geloof raak te sien.
Wanneer die Christelike geloof só gelees word is daar ander padmerkers, roetes, en verbeeldingsmoontlikhede wat na vore kom, meen sy, en sodoende kan vroue se teologiese bydraes bydra tot ’n toekoms waarbinne alle mense floreer. Dit is immers nie net vroue wat geraak word deur die uitsluiting van vrouestemme binne die kerk nie, maar die hele kerk wat ontneem word van hul gawes en bydraes.
Die Bybel self is ondenkbaar sonder vrouekarakters: beide diegene wat nooit ’n spreekbeurt verkry nie sowel as vroue wat eie teologiese bydraes lewer. So word belangrike frases in ons geloofsbelydenisse op die lippe van Hanna in die Ou Testament en Maria in die Nuwe Testament gevind. Die Evangelies maak weinig sin sonder die verhaal van ’n jong vrou wat haarself bereidwillig verklaar om aan die mensgeworde God geboorte te skenk. Die kerk se verhaal is ondenkbaar sonder vrouedissipels – soos die Samaritaanse vrou by die put – wat die evangelie verkondig aan hul gemeenskappe. Vroue se teologiese bydraes het nie eers in die onlangse verlede begin saak maak nie. Vrouebydraes was nog altyd onontbeerlik in die verwoording van geloof in God.
Dit is ’n verlies vir die kerk wanneer vroue se stemme, ervarings, en bydraes ontbreek – veral in gesprekke wat vroue se liggame en lewens raak. Dit is ’n verleentheid vir die kerk wanneer vroue nie afgevaardig word na kerklike vergaderings nie. Dit is ’n skande wanneer die kerk aandadig is tot geweldpleging, sowel blatant as subtiel, teen vroue.
▶ Dr Nadia Marais doseer sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
