Toe hy as tiener tot bekering kom, was Chancy Gondwe só geïnspireer deur Paulus se lewe, dat hy gebid het: “Here, gee vir my ’n groot geloof.” Nou lag hy: “Toe gee God vir my groot uitdagings.” Een daarvan was om saam met sy vrou, Miriam, ’n skool te stig – vir kinders en volwassenes. ANNALISE WIID het baie by dié twee geloofspioniers geleer.
Chancy en Miriam, en hulle vriendin Magdaleen Goosen, kom drink by my tee. Ons gesels later sommer elmboë-op-die-tafel en oorskry ons afgespreekte tyd by verre. Toe hulle moet gaan, voel my huis geseën, bevoorreg om hulle teenwoordigheid te kon beleef.
Chancy kom van Karonga, Noord-Malawi; Miriam uit Chiradzulu, in die suide van dié lang, maer land met die meer in sy hart. Chancy was ’n onderwyser; Miriam gemeenskapsontwikkelaar. Hulle is lidmate van die Church of Central Africa Presbyterian, deel van die groter NG Kerkfamilie. Die twee het mekaar ontmoet toe albei by die African Bible College studeer het. Aanvanklik val dié brokkies lewensinligting deurmekaar, soos legkaartstukkies, voor my neer. Soos die vertel vorder, maak die prentjie toenemend sin.
Toe Chancy, in 2010, “in blinde geloof” Suid-Afrika toe kom, Stellenbosch toe om ’n nagraadse diploma in teologie te doen, was hy ’n pasgetroude man, met drie jaar ondervinding as opvoedkundige koördineerder by ’n welsynsorganisasie. Miriam het ’n MIV-jeugprogram gekoördineer. Beide was gevestig in hulle beroepe, passievol oor hulle werk.
’n Vriend van Chancy was reeds op Stellenbosch. Dit het vir Chancy soos ’n oop deur na nuwe studiemoontlikhede gelyk. ’n Godgegewe kans wat hy eenvoudig móés vat. Maar, in sy wildste drome kon hy nie voorsien hoe groot die uitdagings sou wees nie.
“Ek het hier aangekom met hopeloos te min geld,” vertel hy. “Ek het álles gebring wat ek kon. Selfs van ons trougeskenke verkoop. Maar dit was nie naastenby genoeg om my registrasiefooi te betaal nie.” Magdaleen vertel dat sy vriende vir haar gesê het: “Chancy has too much faith.” En by haar gepleit het: “Gaan sê vir Chancy hy moet liewer teruggaan Malawi toe.” Selfs sy pastor uit Malawi, wat ook destyds by die US gestudeer het, het hom op ’n dag in die teologiebiblioteek gevra: “Is jy seker jy moet hier wees?”

Terwyl almal rondom hom toe deure sien, het Chancy se geloof egter steeds ’n skrefie sien oopstaan. En hoewel heeltemal platsak, het hy geensins getwyfel dat hy op Stellenbosch móés wees nie. “I was so much sure of the opportunity God had opened.”
SIF, die Stellenbosch International Fellowship, van ds Jurie en Magdaleen Goosen, het Chancy se familie geword in daardie tyd. Liefde en dankbaarheid lui, na jare, nog klokhelder in sy stem: “They gave me a sense of belonging.” Geestelike onderskraging. Kos, klere, praktiese hulp. “Mense het gou bewus geword van die nuwe jongman; het sy ooglopende potensiaal begin raaksien,” vertel Magdaleen. “Hulle wou graag by hom betrokke raak en help.”
Toe hy eers sy voete gevind het, het Chancy vir Miriam Suid-Afrika toe laat kom. Hulle was per slot van sake nog so te sê op wittebrood. Trou aan hulle aard en gawes, het hulle kort voor lank ’n leiersrol by SIF se Sondagskoolprogram begin speel. Dit het baie goed gegaan met sy studies, maar daardie eerste jaar het hy amper sy gradeplegtigheid gemis, want hy moes nog ’n onmoontlike R11 000 se studieskuld delg.
Chancy vertel: “Toe word ek genooi na Helderberg Uitreik se jaarlikse kamp. Ek gaan, maar bietjie teësinnig, want my lewe hang in die weegskaal – ek het nie geweet of ek die volgende jaar verder sou kon studeer nie! Hulle deel my in saam met Nico van Rensburg, ’n man wat ek glad nie ken nie, om te bid. En Nico vra vir my: Watter uitdagings beleef jy nou?”
Ná die kamp het Nico by SIF navraag gedoen oor Chancy se studentenommer. En Chancy het, jubelend en verlig, verstom gestaan oor God se getrouheid en voorsiening. “Ek het dit baie keer al gesien,” getuig hy: “Op die regte pad het jy nie noodwendig van die begin af alles wat jy gaan benodig nie. Maar wanneer jy dit nodig het, op die regte tyd … God is groot!”
Intussen het Miriam volledig deel geword van die SIF-kerkfamilie. Sy het ook by die Universiteit se Spice Group ingeskakel, ’n ondersteuningsgroep vir die vroue van internasionale studente. En dit was goed om te kon praat met “people who have the same struggles”.
Maar Magdaleen het haar dopgehou, gesien die vroue-uitstappies is nie vir haar genoeg nie. “Ek het gesien hoe baie en leergierig sy lees, en besef: Dié vrou kan en wil meer doen, maar daar is nie geld nie!” Magdaleen bemiddel toe dat Miriam ’n leierskapkursus by ALICT (African Leadership Institute for Community Transformation) in Wellington doen. En dit word nog ’n belangrike legkaartstukkie.
Hoewel die keuring baie streng is, was haar werk-agtergrond in Malawi deurslaggewend vir toelating. Maar die kursus het skaars begin, of Miriam besef sy is swanger. Sy druk egter deur en voltooi die intensiewe program, oggendnaarheid ten spyt. Chancy onthou die tyd so: “Dit was wonderlik en angswekkend gelyk: Die verantwoordelikheid!” Skielik is hy pa, man, student en kerkmuis. Genadiglik slaag hy sy diploma met lof en verwerf sodoende ’n beurs.

Met die beursgeld registreer Miriam vir ’n nagraadse sertifikaat in onderwys. Sy verwerf later ook haar honneurs daarin. En Chancy registreer vir ’n M in teologie, met fokus op gemeenskapsontwikkeling. Die twee studeer hard en doelgerig. Met finansiële ondersteuning van ’n Suid-Koreaanse professor, gaan doen hy ook ’n kursus in die VSA: in die opleiding van onderwysers vir ongeletterdes. Later ook Child Evangelism Fellowship se Super Seminar in Somerset-Wes. En besef algaande: Geletterdheid is sleutel-belangrik om gemeenskappe te help ontwikkel.
Chancy en Miriam bekwaam hulleself so goed as moontlik. Nie om hier die korporatiewe leer te klim nie. Hoewel die Malawi-familie hulle sterk daartoe aanspoor (“Maak vir julleself ’n goeie lewe in Suid-Afrika”) kies die Gondwe’s om terug te gaan na hulle Moederland. Om dáár ’n verskil te gaan maak.
En hoe wonderlik doen hulle dit nie! Die gesin gaan vestig hulle in Mangochi, in die suide van Malawi. Aanvanklik wou hulle terug Noorde toe, na Mzuzu, waar Chancy vandaan kom. Dit is Malawi-tradisie: Die vrou gaan bly by haar man se mense na hulle troue. Maar “something wasn’t adding up”.
By ALICT het Miriam geleer om ’n bedieningsplan saam te stel. Te vra: Waar sou hulle gawes die gemeenskap ten beste kon dien? Die antwoord was deurslaggewend: Die hoogste vlakke van geletterdheid in Malawi is in die Noorde, veral in Mzuzu. In die Suide is so veel as 53% van die bevolking ongeletterd. Dit het dus na die beste plan gelyk om terug te gaan na Mangochi, in die Suide. Sonder werk, sonder huis, sonder goed. Met hulle dogtertjie, Lusungu.
Die eerste twee jaar woon hulle by Miriam se ouers. Begin ’n Good News Club met CEF-materiaal: Elke Vrydag is dit speletjies, liedjies, Bybelstories. En die getalle groei: 30, 40, 50 kinders. Die Gondwe’s bly sonder inkomste. Hou net aan, met klein treetjies. Droom daarvan om ’n skool te begin … Toe hulle nêrens ’n goeie voorskool vir hulle 3-jarige Lusungu kan kry nie, pak hulle die bul by die horings.
Hulle gebruik ’n Theocentric Christian Education Curriculum for Home Schooling, wat Tannie Kietie Smit (91, oud-sendeling en lidmaat by SIF) vir hulle gekoop het voor hulle uit Suid-Afrika weg is. Die klein kamertjie agter Miriam se ouers se huis word omskep in ’n klaskamer. “Ons het begin met 10 kinders van ouers wat ons ken. Vir die eerste keer het ons toe ’n inkomstetjie wat ons kan begin onderhou,” vertel Chancy.

“Ja,” voeg Miriam by, “hy is handig. Hy het alles reggekry. Swaaie ook gebou. Ek hou skool. Ons bou verhoudings met die kinders, personeel en natuurlik indirek ook met die ouers – waarvan 72% Moslem is, maar nie omgee dat hulle kinders by ’n Christenskool leer nie. Die skool groei vinnig. Elke jaar het daar meer kinders gekom. Ons het nou al 90 leerders. Van voorskool tot Graad 2.”
Intussen is hulle tweede dogtertjie, Lingalithu, gebore. Chancy en Miriam het vrywilligers, wat hoërskool klaargemaak het, as hulp-onderwysers begin oplei. Daar is reeds agt van hulle op die personeel. Sowel as twee gekwalifiseerde onderwysers.
En Chancy het ’n naskoolse program met die tieners begin: YouTh-Ink. “Baie kinders slaag nie hulle grade in die openbare skole nie, of val sommer uit. Ek wil hulle motiveer om aan te hou, deur te druk. Daarom het ons nou ook begin met naskoolse klasse: Maandag tot Woensdag in Engels, Wiskunde en Lewensvaardighede. Op Donderdae gaan die kinderevangelisasie-program steeds voort. En Vrydae doen ons basiese rekenaarvaardigheid.”
Boonop bied hulle ’n geletterdheidsprogram vir volwassenes aan met vyf klasse in vyf verskillende dorpies. Chancy het twee vrywillige onderwysers in elke dorpie geïdentifiseer en opgelei. Hy ondersteun hulle deur gereelde besoeke.
“Geletterdheid maak ’n enorme verskil, vir almal,” vertel hy. “Volwassenes kan nou vir die eerste keer hulle name skryf, of dié van hulle kinders. Hulle kan sélf ’n SMS lees van ’n kind wat ver is – sonder die verleentheid om te moet hulp vra. Hulle kan Bybel lees. Soveel vryheid, soveel moontlikhede, soveel meer menswaardigheid! Met geletterdheid gee ons ’n geskenk aan vorige en toekomstige geslagte.”
Oor hulle tyd in Suid-Afrika glimlag die Gondwe’s: “Ons is so dankbaar vir die mense om ons, wat ’n verskil in ons lewe gemaak het. En so bewus: God ken jou lewensdoel – wat jy nou deurgaan, is gewoonlik voorbereiding vir dit wat op jou wag …”
Toe hulle by my wegry, voel ek verryk: Hoe bevoorreg is ons wanneer ons mense soos dié kan binnenooi!
– Kontak ds Jurie Goosen by goosens@isales.co.za as u die nuusbrief van die Gondwe’s wil ontvang.
Vir meer foto’s en videos, gaan na Facebook: Muliko Literacy Project/Royal Kidz Academy.
