Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Het die NGK nog ’n rol om te speel in ’n post-apartheid-Suid-Afrika? Kan die kerk nog ’n sinvolle bydrae maak? Het die omstandighede in die land nie sodanig verander dat die kerk wat apartheid Bybels fundeer het, se rol uitgespeel is nie?
Hierdie vrae wat al meer gevra word, het die potensiaal om retoriese vrae te word – vrae wat eintlik ’n antwoord veronderstel – dat die NGK se rol in die samelewing uitgedien is. Dalende lidmaatgetalle en gemeentes wat “toemaak” dreig om aan hierdie antwoord vleuels te gee.
Die geskiedenis van die NGK, die plek waar ons wortels diep geanker is, vertel egter ’n ander verhaal. Dit daag ons uit om anders te dink oor ons rol in ’n veranderende Suid-Afrika. Dit herinner ons dat opregte geloof en toewyding ’n daadwerklike verskil in die samelewing kan maak.
Die merkwaardige verhaal van die Franse Hugenote bevestig hierdie stelling.
Die herroeping van die Edik van Nantes in 1685 het die einde van godsdiensvryheid in Frankryk beteken. Franse protestante moes vir hulle lewe vlug. Op 31 Desember 1687 het ’n groep uit Nederland op die skip, die Voorschoten, na die Kaap vertrek. Hulle het in April 1688 in Saldanhabaai voet aan wal gesit en is in die Drakensteinvallei hervestig.
Die ontwikkeling wat gevolg het, getuig van moed, durf en geloof. Op 6 Desember 1690 het hulle ’n eerste kerkraad verkies en in 1691 het die gemeente Drakenstein onstaan. Teen 1717 het die gemeente die grond bekom waarop die huidige Strooidakkerk in die Paarl staan. Teen 1729 is die gemeente beskryf as die ywerigste gemeente in die kolonie!
Die Hugenote het egter nie net op godsdienstige gebied ’n verskil gemaak nie. Hulle het met groot ywer die land help ontwikkel. Vier jaar na hulle vestiging is die eerste wingerdoes gemaak en as gevolg van hulle ywer het Olifantshoek Franschhoek geword. Die Hugenotemonument, wat in 1949 ingewy is en wat die koms van hierdie groep gelowiges herdenk, vertel die verhaal van geloof wat in vreemde omstandighede op die terrein van godsdiens, kultuur, landbou en nywerheid ’n verskil kom maak het.
Baie lidmate van die NGK beleef die veranderende omstandighede in Suid-Afrika as vreemd en selfs bedreigend. Dit is egter juis die verandering en onsekerheid wat nuwe uitdagings bring en wat deure na nuwe geleenthede oopmaak.
Ons hoef nie die vreemde in te vaar om ’n verskil in ’n vreemde, woeste land te gaan maak nie. Lidmate van die NGK kan dit sommer hier doen. Die vraag is of ons geloof van so ’n aard is dat ons in hierdie omstandighede ’n verskil wil maak om so op die voetspore van ons voorouers te loop.
▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
