Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die koninkryk gaan oor mense en die aarde

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Daar bestaan by Nuwe-Testamentici min twyfel daaroor dat die verkondiging van die koninkryk van God ’n wesenlike element van sowel Jesus as die vroeë kerk se verkondiging was.

Daar bestaan egter nie ’n soortgelyke konsensus oor wat presies met dié frase bedoel word nie. Dui dit op ’n fisiese koninkryk soos dié van Dawid wat in ’n spesifieke land of tydvak gelokaliseer kan word? Of is dit eerder ’n innerlike ingesteldheid wat die opperge­sag van God erken sonder dat dit konkreet vorm aanneem in ’n bepaalde plek of instelling?

Dit is moeilik om die vrae klinkklaar te beantwoord. Jesus self praat naamlik op ’n kriptiese en beeld­ryke manier oor die koninkryk van God sonder om die detail daarvan uiteen te sit.

Die presiese uitdrukking “die koninkryk van God” kom ook nie in die Ou Testament voor nie. Die naaste formulering daarin is in 1 Kronieke 28:5 wat van “die koningskap van die Here” praat.

Ondanks die afwesigheid van die presiese term “koninkryk van God” in die Ou Testament verwoord dit volgens Karl Kuhn egter spesifiek Israel se wêreldbeeld en is dit daarom nodig om laasgenoemde te verstaan ten einde Jesus se verwysing na die koninkryk van God te kan begryp.

Volgens Israel se wêreldbeeld is God die koning van Israel asook die heerser oor die ganse heelal. Die belydenis van God se heerskappy oor alles word helder verwoord in Psalms 93, 95 – 99.

Ten tye van die Nuwe Testament was nóg die toestand van die skepping nóg die posisie van Israel egter in lyn met God se wil. So beskryf Genesis 1–11 die ver­val van die skepping terwyl die herhalende patroon van die ongehoorsaamheid van Israel in die narratie­we gedeeltes vertel word. Nie eens die ballingskappe van Israel en Juda kon die patroon deurbreek nie.

Ondanks die toedrag van sake het daar ’n groeiende hoop in Israel se profetiese tradisie (vgl Jer 31:1-14) posgevat dat God self sou ingryp om sowel die skepping as Israel met sy wil te belyn. Volgens Esegiël 36:33-38 sou Israel in ’n Eden omskep word en die volk self in mense met ’n nuwe hart en gees (Eseg 36:25-30). As dit sou gebeur sou die koninkryk van God aanbreek.

Dit is dan ook die hoop wat Jesus in sy woorde en dade aanspreek. Om in die boodskap van Jesus te glo vereis daarom van die kerk om op sowel die vernuwing van mense as die aarde te fokus.

▶ Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top