Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hier is hulp vir gesprekke oor seksualiteit

Die NG Kerk in Wes-Kaapland se Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake (STLAS) het hulp­middels beskikbaar gestel wat gemeentes kan help om gesprekke oor sek­sualiteit te voer.

Dit is gedoen teen die agtergrond van die besluite van die Algemene Si­no­des van 2015 en 2016 en die gesprek oor ver­houdinge tussen mense van dieselfde geslag.

Die Gespreksbord van Seksualiteit is deur STLAS in samewerking met Bybel-Media ontwikkel. Die doel van die gespreksbord is om ’n veilige ruimte te skep waar mense van verskillende agtergronde en standpunte saam oor seksua­li­teit en selfdegeslagverhoudings kan praat en dink.

Groepe van 6 tot 8 kan die gespreksbord gebruik om ’n oop gesprek te voer sonder om mekaar van ’n standpunt te probeer oortuig. Die bord wil eerder men­se help om meer inligting te verkry en om geloofsonderskeidend daarmee om te gaan as om ’n mening te vorm.

Die bord sal binnekort by Bybel-Media be­skikbaar wees.

Die “Terugvoerblad” is ’n hulpmiddel wat die Wes-Kaapse Sinode wil gebruik om te bepaal waar verskillende ge­meentes hulle in die gesprek rondom seksualiteit en selfdegeslagverhoudings bevind. Dié blad, wat tot dusver baie goeie terugvoer ontvang het, sal aan gemeentes in die Wes-Kaap uitgestuur word. Gemeentes wat daarvoor kans sien, sal dan die blad kan gebruik om saam te gesels en aan te dui waar die gemeente oor dié sake staan.

Die terugvoer van hierdie prosesse sal dan weer deur STLAS gebruik word om verdere navorsing te doen.

STLAS hoop dat hierdie hulpmiddels kan wees wat ’n meer oop gesprek sal fasiliteer. Hierdeur kan gemeentes aanhou om oor hierdie sake te praat sonder om meer gepolariseer te word.

Gemeentes word ook daarop gewys dat Inclusive and Affirming Ministries, bekend as IAM, ’n organisasie is wat fokus op gesprekke oor seksualiteit en seksuele diversiteit in kerke.

IAM bied geleenthede vir gemeentes om met gay medegelowiges in gesprek te tree sonder om enigiemand van stand­punt te probeer oortuig.

Ds Nioma Venter het een van hierdie werk­winkels bygewoon en haar bele­we­nis was besonder positief.

“Ek het besef ons is arm as dit daarby kom om ons eie seksualiteit te verwoord. Die geleentheid het my verryk. Dit het nie hier gegaan oor hetero of homo nie, maar oor die geleentheid om ’n deel van jou identiteit waaroor jy baie meer woord-arm is as wat jy besef, saam met ander te verken.”  

Belangstellendes kan dr Pieter van der Walt of ds Ankia du Plooÿ by Communitas kontak vir meer inligting.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top