Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Thomas Aquinas het dit geïgnoreer

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dawie de Wet van die Strand skryf:

Ds Marius Schoombie (e-Kerkbode, 9 April) sê in sy artikel dat God ten volle in die skepping teenwoordig is, maar … “Die vraag waarmee ek sal aanhou worstel en waarin ek meer en meer vir God ontdek, is ‘hoe?’”

Dis interessant dat sy redenering hieroor begin met ’n aanhaling van Thomas Aquinas (1224/5-1274), vader van die sogenaamde “Skolastiek”. Ongelukkig verdiskonteer hy nie die feit dat Thomas se skeppingsbeskouing van die Griekse filosoof Aristoteles af kom en nie uit die Bybel nie. Trouens, Thomas het baie moeite gedoen om die Bybel só te plooi dat Aristoteles se (heidense!) godsbegrip van ’n “onbeweegbare beweger” daarin kan pas.

Gevolglik leer hy oor die sondeval dat die mens met die sondeval die genade verloor het en dat deur Christus se sterwe die mens weer genade ontvang. Spasie ontbreek om hierop in te gaan, maar ek noem net dat hy die Bybelse waarheid dat die hele skepping deur die sonde getref is, ignoreer.

Thomas se dualistiese teologie van “Natuur en Genade” rus op sy heidense beskouing van die skepping deur ’n “onbeweegbare beweger”. Dit is onversoenbaar met die Bybelse leer van ’n skepping deur die Lewende God. Dit was baie goed (Gen 1:31) maar is totaal deur die sonde bederf (vgl Gen 3:17-19, Rom 8:19-22). Christus het gekom om te herskep en sy Kerk geroep om, onder leiding van sy Gees, hierdie werk voort te sit totdat Hy weer kom (vgl Joh 1:1-18, Kol 1:15-23, ens).

Schoombie haal verder vir Thomas aan wat sê dat ’n verkeerde siening van die skepping lei tot ’n verkeerde siening van God. Daarop sê ek amen, net jammer Thomas het dit self geïgnoreer.

(Hoofbron: Van der Walt BJ (2017). Thomas Aquinas and the Neo-Thomist tradition – a Christian philosophical assessment. Potchefstroom: Institute for Contemporary Christianity in Africa.)

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top